Die kantoor van die polisiebaas van Mpumalanga, lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela, het ontken dat die polisie voete sleep of versuim het om leidrade in die Hillary Gardee-moordsaak op te volg.
Dit het gevolg op twiets deur die slagoffer se bedroefde pa, Godrich Gardee, wat die SAPD van growwe onbevoegdheid beskuldig.
Gardee is al ‘n paar weke ontevrede en kla by sy 176 000 Twitter-volgelinge dat die polisie teen ‘n slakkepas beweeg om sy dogter se moordsaak op te los.
Gardee het Maandag geskryf dat sou hy skielik vermoor word, sy volgelinge antwoorde van die SAPD moet eis.
Gardee het gesê as anti-bende polisiebeamptes soos Charl Kinnear vermoor kan word, watter hoop is daar vir gewone burgers. “Die boewe kan selfs die polisie vermoor … met militêre presisie,” het hy gesê.
Maar brig. Selvy Mohlala, woordvoerder van lt.genl. Manamela, het gesê die polisie werk met die Gardee-familie saam.
“Die familie word baie gereeld deur mnr. Gardee ingelig oor die vordering van die saak. Die opdaterings vind plaas deur beide fisiese vergaderings en telefoonoproepe,” het Mohlala gesê.
Die provinsiale kommissaris se kantoor het geen idee gehad watter ander inligting Gardee oor die saak het nie, het hy gesê.
“Ons weet nie watter inligting hulle het wat die publiek gaan skok nie. Ons ondersoek het nie gestop sedert die saak geregistreer is nie. Ons gaan steeds voort met die ondersoek en sou daar enige nuwe verdagte(s) opgespoor en verbind word, sal ons nie huiwer om hulle in hegtenis te neem nie,” het Mohlala gesê.
Verlede maand het Korrektiewe Dienste een van Hillary Gardee se vermeende moordenaars na ‘n gedeelte van die Barberton- maksimum gevangenis oorgeplaas nadat hy in besit van ‘n selfoon gevind is.
Hillary is in April ontvoer, verkrag en vermoor nadat sy dae lank vermis was.
Bronne: MSN, IOL, Pretoria News
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.
Lees ook: Hillary Gardee se pa ‘vrees vir sy lewe’



