Suid-Afrikaanse pluimveeboere worstel steeds met die hoërisiko-voëlgriep, met produsente in die Wes-Kaap wat die swaarste getref is.
Die Wes-Kaap het 68 uitbrekings aangemeld, gevolg deur Gauteng en KwaZulu-Natal, wat onderskeidelik 39 en 18 uitbrekings gehad het.
Die bedryf was gedwing om 3,7 miljoen henne, hoofsaaklik in die eierbedryf, te vernietig.
Die SA Pluimveevereniging (Sapa) het gesê sedert die eerste uitbreking van die virus in April verlede jaar was daar 145 aangemelde gevalle in die land, met 13 nuwe uitbrekings wat in die eerste drie maande van vanjaar aangemeld is.
“Die eierbedryf in die Wes-Kaap het die grootste verliese gely, met ‘n geraamde 30,6% van hul lêers wat deur die H5N1-uitbreking geraak is,” het die vereniging gesê.
Volgens Sapa se moniteringsverslag vir Januarie tot Maart moes in die Wes-Kaap van nagenoeg 330 000 braaikuikens vir vleisproduksie en byna 1,5 miljoen voëls wat eiers gelê het, weggedoen word.
Die departement van landbou het boere gemaan om op ‘n hoë waaksaamheidsgrondslag te wees, aangesien daar ‘n verhoogde risiko van die siekte in die winter is.
Dit is slegte nuus vir verbruikers, aangesien boere gedwing kan word om pryse te verhoog.
“Die siekte sal waarskynlik ‘n negatiewe impak op produksie hê, wat basiese ekonomie is, naamlik dat as die vraag meer as die aanbod is, dit pryse opwaarts beïnvloed. Die toename in ’n land wat reeds hoë inflasie het weens ander eksterne faktore sal rampspoedig wees vir verbruikers en vir voedselsekerheid, aangesien hoender een van die laekoste-proteïenbronne is,” sê Daniel Johnson, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van landbou.
Die departement van landbou het gesê die voorsorgmaatreëls teen die virus sluit in dat mak pluimvee verhoed word om in kontak met wilde voëls te kom.
Dit is ook belangrik om besmette voëls so vinnig as moontlik te isoleer en mee weg te doen om die verspreiding van die siekte te voorkom.
Bronne: MSN, IOL, Pressreader
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.



