Liggame in lykshuis ontbind tydens kragonderbrekings

“In die geval van beurtkrag word liggame tydelik in ‘n vrieskas gestoor en vroegoggend uitgehaal vir nadoodse ondersoeke.”

Weens die gebrek van ‘n funksionele kragopwekker by die Garankuwa-staatslykshuis word liggame sedert Februarie nie tydens Eskom-kragonderbrekings verkoel nie.

Familielede van oorledenes is glo erg getraumatiseer weens die situasie.

Nomathemba Mokgethi, Gautengse LUR vir gesondheid, het skriftelik geantwoord op die vrae van die DA-woordvoerder vir gesondheid in Gauteng, Jack Bloom, en gesê ‘n kragopwekker wat gebreek is, asook gereelde beurtkrag en elektrisiteitsvermindering, het grootliks tot die situasie in die Garankuwa-omgewing bygedra.

“In die geval van beurtkrag word liggame tydelik in ‘n vrieskas gestoor en vroegoggend uitgehaal vir nadoodse ondersoeke.”

Op 26 Februarie 2022 het die noodkragopwekker misluk, nadat ‘n Eskom-substasie ineengestort het. Liggame is daarna op 27 Februarie na die forensiese laboratorium in Pretoria oorgeplaas en eers op 1 Maart terugbesorg.

Op 5 Maart het die kragopwekker weer onklaar geraak en daar is berig dat die brandstoftenk skoongemaak moes word.

Op 10 Maart is daar glo vasgestel dat die kragopwekker ‘n nuwe alternator benodig, maar ten spyte van baie versoeke het die Gautengse departement van infrastruktuurontwikkeling (GDID) gesê hulle het ‘n uitdaging om goedkeuring vir die aankope te kry, aangesien sommige van die goedkeuringsbeamptes geskors is.

Op 26 Mei het GDID na die kragopwekker gekyk, die ou alternator gediens en gesê hulle moet gebel word as die elektrisiteit afgaan om die kragopwekker met die hand aan te sit.

Die nuutste is dat die GDID se Tshwane-kantoor “nog steeds wag op goedkeuring vir die aanstelling van ’n kontrakteur deur die GDID-voorsieningskanaalbestuurseenheid.”

Die GDID is verantwoordelik vir die kragopwekkers by Gauteng se agt provinsiale lykshuise wat lykskouings vir alle onnatuurlike sterftes doen.

Intussen kla begrafnisoperateurs dat liggame van hierdie lykshuis in ‘n swak toestand na hulle toe kom, iets wat familielede ontstel.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.

Skrywer:

Leave a Reply

Your email address will not be published.