Het jy al opgelet hoe muskiete feesvier op sommige mense se bloed, terwyl hulle ander mense ooglopend ignoreer?
Dit is nie jou verbeelding nie. Volgens Joseph Conlon, ‘n entomoloog en tegniese adviseur van die Amerikaanse vereniging vir muskietbeheer, is sommige mense beslis aanlokliker vir muskiete weens die chemikalieë wat hulle velle afskei.
AOL Lifestyle berig gesondheidskenners beskou die volgende as risikofaktore:
Swangerskap
Swanger vroue skei meer koolstofdioksied af wanneer hulle asemhaal, wat muskiete aantrek. Dit is kommerwekkend, aangesien die Zikavirus wat deur muskiete oorgedra word, geboortedefekte kan veroorsaak as ‘n vrou tydens swangerskap besmet word.
Oefening
As jy ná ‘n drafsessie met ‘n paar muskietbyte terugkom, is dit weens die melksuur wat ‘n mens tydens oefening deur jou sweet afskei. Muskiete blyk gek te wees daarna.
Alkohol
Kenners meen dat mense wat gereeld alkohol drink aantrekliker is vir muskiete omdat alkohol ‘n mens se liggaamstemperatuur laat styg en muskiete van hitte hou.
O-bloedgroep
Navorsing wys dat mense in die O-bloedgroep twee keer so geneig is om deur ‘n muskiet gebyt te word as mense met tipe B-bloed. Mense met tipe A-bloed is selfs ongewilder. Verder skei meer as 85% van mense ‘n chemikalie af wat vir muskiete sê in watter bloedgroep ons val, wat aan hulle ‘n goeie aanduiding gee van wie om te takel.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.



