Loopring: goed of sleg?

Plaas eerder jou baba soveel moontlik op die grond, omring hom met interessante speelgoed, en geniet sy ontwikkeling saam met hom.

Wanneer jou kleinding meer begin rondbeweeg, kan ‘n loopring na ’n goeie plan lyk. Dit hou hom gelukkig en mamma kry ’n oomblik om na iets anders om te sien.

Die meeste babas is versot daarop om in ’n loopring rond te waggel. ’n Bewegende baba is ’n gelukkige baba. Daar is verskillende loopringe beskikbaar, party eenvoudig en net gemaak om in rond te beweeg, ander met ingeboude liedjies en knoppies om te draai, wat die loop dan ook ’n leersame ervaring maak.

Loopringe is egter nie slegs pret en plesier nie. Daar is ‘n paar goeie redes waarom dit beter is om glad nie een aan te skaf nie. Die Kanadese regering het in 2004 ’n wet ingestel wat die verkoop en advertering van nuwe en tweedehandse loopringe verbied.

Die rede hiervoor is dat loopringe verantwoordelik was vir duisende ongelukke wat andersins vermy kon gewees het. ’n Baba in ’n loopring beweeg teen ’n gevaarlike spoed van een meter per sekonde.

Hy kan in meubels vasloop, by trappe afval, op oneweredige vloeroppervlakke omslaan, en gevaarlike voorwerpe soos medikasie, warm drankies en elektroniese toestelle bykom.

Die gekla en gekreun van jou baba omdat hy nie soveel en so goed kan beweeg soos hy graag sou wou nie, is een van die redes hoekom ouers ’n loopring aanskaf.

Om te kla en kreun, stimuleer egter die groei van die brein. Die brein reageer op die baba se volgehoue entoesiastiese behoefte om te beweeg deur die perfekte neurochemiese paadjies te skep wat die baba se begeerte om te beweeg, vervul. Hierdie gekerm en gekla begin baie vroeg en bereik ’n hoogtepunt rondom ses maande, wanneer die baba se brein daardie noodsaaklike neurochemiese paadjies vir kruip begin vorm.

Die vlak van frustrasie neem toe, want dit is baie harde werk vir ’n baba om sy armpies en beentjies te koördineer, sy lyfie van die grond af te lig, en dan nog vorentoe ook te beweeg.

Indien jou baba dan in ’n loopring geplaas word, mis hy hierdie belangrike stap om sy spiere en koördinasie voldoende te ontwikkel, en sal dan moontlik glad nie kruip nie.

Babas se ontwikkeling is baie spesifiek. Eers lig hulle hulle koppies, dan druk hulle hulle lyfies op, later sit hulle, dan kruip hulle, dan volg staan, en uiteindelik begin hulle loop.

Hulle spiere is ontwerp om in hierdie spesifieke volgorde te ontwikkel en hulle koördinasie en verstandelike vermoë ontwikkel in noue samewerking daarmee.

Deur jou baba in ’n loopring te plaas, maak hom beweeglik voordat hy verstandelik reg is daarvoor. Sy spiergroepe ontwikkel dan ook nie in die regte volgorde nie, en affekteer sodoende sy mylpale.

Baie babas sal ook op hulle tone loop in die loopring, wat tot verkorte kuitspiere kan lei. Loopring-babas loop ook oor die algemeen later as ander babas.

Wanneer jou baba in ’n loopring loop, is daar meer gewig op sy bene as wat hy in hierdie stadium van ontwikkeling behoort te ondervind en dit weerhou hom daarvan om sy onmiddellike omgewing met sy handjies te ontdek.

Dit kan ook “loopverwarring” veroorsaak, aangesien ander liggaamsdele en bewegings in ’n loopring as tydens loop gebruik word. Staan, val en opstaan is ook baie belangrik vir jou baba se ontwikkeling. Opvoubare loopringe kan ook defek wees, onder jou baba meegee en sodoende beserings veroorsaak.

Vir die regte bewegingspatrone en spierontwikkeling is dit ook belangrik dat jou baba sy voete moet kan sien as hy leer loop.

Die nadele van ’n loopring blyk dus veel meer as die voordele te wees. Daar is geen aantoonbare bewyse dat ’n loopring voordelig of noodsaaklik is nie. In plaas daarvan om geld te spandeer op ’n speelding wat indruis teen alle natuurlike ontwikkeling, plaas eerder jou baba soveel moontlik op die grond, omring hom met interessante speelgoed, en geniet sy ontwikkeling saam met hom.

Bronne:

Parent24, 2014, “Are walking rings safe?”, http://www.parent24.com/Baby/Babycare/health_safety/Are-walking-rings-safe-20141009

Hanneke Heyns, 2012, “Baby walkers- are they good or are they bad?”, Dr. H Heyns Inc. Paediatricianhttp://www.dr-heyns.co.za/blog/2012/03/08/baby-walkers-are-they-good-or-are-they-bad/

Dr. Melodie de Jager, 2015, “Is a walking ring a no-no?”, BabyGym Institutehttps://www.babygym.co.za/articles/Article_Is%20a%20walking%20ring%20a%20no-no.pdf

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.

Leave a Reply

Your email address will not be published.