Geliefde egpaar groet Kimberley

Poelie en Lizette van Vreden het besluit om na 64 jaar in Kimberley na Kleinbaai in die Overberg te verhuis.

Poelie is in Maart 1958 in Kimberley gebore. Hy het daar skoolgegaan en in 1976 by die Spoorweë se sweiswinkels in Landbouweg begin werk. Daar het hy na 45 jaar diens op die ouderdom van 63 afgetree. Sy vrou, Lizette, wou Kimberley verlaat net nadat Poelie afgetree het. “Maar ek het altyd gesê ek sal nooit Kimberley verlaat nie, omrede ek nog nooit in my hele lewe getrek het nie. Ek is van my ouers se woning na my eie woning toe, waar ek vir 43 jaar gebly het. Om die jare se vriende agter te laat, was vir my te veel gevra. Ek het altyd geglo as mens eers Kimberley se water gedrink het, bly jy daar.

Ek is jammer om te sê Kimberley se agteruitgang het my tot die besluit gebring om tog eerder te verhuis. Kimberley se drinkwater (as daar die dag is) was nie meer dieselfde nie. Dit is hartseer om jou geboortedorp so te sien tot niet gaan. Dit maak mens magteloos om te weet dat dit vir seker een van die duurste plekke is om in te bly wat elektrisiteit betref. Om net te dink aan die gemors wat in die woongebiede gestort word omdat die publiek te bang is om stortingsterrein toe te gaan omrede hulle daar aangeval word.

Om nie eers te praat van die slaggate nie. Kimberley word ook nou as een van die dorpe met die hoogste misdaad en inbrake beskou.” Poelie sê dis regtig hartseer en hy wil nie sy ou geboortedorp afkraak nie, maar feite is feite. “Ek is en sal altyd lief bly vir Kimberley, want altwee my ouers is daar begrawe in daai vuil begrafplaas waar, as lyke kon, hulle hulle kis sou gevat en met hom geloop het.”

Poelie was nie seker of hulle die regte ding doen om te verhuis nie. Hy was om sy huis in die mark te sit en het gedink dit sal maande neem voor hy verkoop sal word. Dit sou hulle genoeg tyd gee om almal te gaan groet. “Tot my skok daag ‘n kontantkoper die eerste week in Mei op en sê hy vat die huis op een voorwaarde: ek moet einde Mei uit wees, want hy wil 1 Junie intrek. Lizette het amper die stuipe gekry en moes begin pak. Ons het ‘n erfie gekoop op Kleinbaai in die Overberg en is besig om vir ons ‘n plekkie te bou.

Daarom wil ek hier vir Kimberley en sy pragtige, vriendelike mense sê: Tot wedersiens! Ons gaan julle ieder en elk mis. Dankie FiND iT ook vir al julle jare se nuus en op hoogte bly van wat om ons aangegaan het. GOD BLESS!”

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.

Leave a Reply

Your email address will not be published.