Meer as 8 000 jongmense sterf op paaie in SA

Deel hierdie storie / Share this story

Die Padverkeerbestuurskorporasie (RTMC) het in ‘n verklaring gesê Suid-Afrika ervaar ‘n kommerwekkend toename in sterftes onder die jeug weens padongelukke.

Volgens die verklaring is ongeveer 8 547 jongmense tussen 21 en 34 jaar oud  oor die afgelope drie jaar (2019 tot 2021) op die land se paaie dood.

Die kategorie wat die ergste geraak is, is diegene tussen die ouderdomme van 30 en 34 jaar, met 3 661 van hulle wat in die driejaartydperk weens padongelukke gesterf het.                                  

Die provinsies met die hoogste aantal jeugsterftes op die pad is Gauteng met 1 380 sterftes, gevolg deur KwaZulu Natal met 1 235 sterftes, Oos-Kaap met 1 201 en Limpopo met 1 127.

Hierdie vier provinsies is verantwoordelik vir 57,8% van die padsterftes onder die jeug.         

Mpumalanga was verantwoordelik vir 968 sterftes, gevolg deur die Wes-Kaap met 932, die Vrystaat met 830, Noordwes met 640 en die Noord-Kaap met 234 sterftes.

“Hierdie kommerwekkende statistieke dien as ‘n duidelike oproep tot jongmense om padveiligheid te prioritiseer, terwyl hulle hierdie maand aan jeugmaand-feesvieringe deelneem,” lui die verklaring

Faktore wat bydra tot die hoë aantal padsterftes onder die jeug sluit in risiko-gedrag soos die onwilligheid om veiligheidsgordels te gebruik, die bestuur teen ‘n spoed wat te vinnig is vir die omstandighede en die bestuur onder die invloed van alkohol.

Na raming het noodlottige ongelukke die ekonomie verlede jaar R188,31 miljard gekos op grond van die 10 611 noodlottige ongelukke wat in dié tydperk met die verlies van 12 545 lewens aangeteken is.

Volgens RTMC se uitvoerende hoof, adv. Makhosini Msibi, word Suid-Afrika deur ‘n krisis op sy paaie in die gesig gestaar, terwyl die meeste van die slagoffers die ekonomies aktiewe ouderdomsgroep is wat nodig is vir die ontwikkeling van die land.

“Dit is hartseer om in padongelukverslae te lees dat mense in die meeste gevalle op die paaie sterf weens die versuim om veiligheidsgordels te gebruik. In baie gevalle is gevind dat veiligheidsgordels afgesny of onder die sitplekke van die voertuig vasgebind is en dus nie gebruik kon word om lewens te red nie.”

Hy het ‘n beroep op padgebruikers en wetstoepassingsbeamptes gedoen om hande te vat om die stygende neiging van padsterftes onder jongmense te verminder.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.