‘n 26-jarige man is dood nadat hy na bewering deur ‘n ander man by ‘n McDonald’s kitskosrestaurant by die Highveld Mall in Mpumalanga met ‘n skerp voorwerp gesteek is.
Die Witbank-polisie het die gemeenskap versoek om ‘n onbekende verdagte wat die 26-jarige doodgesteek het, te help opspoor en in hegtenis te neem.
Die voorval het na bewering in die vroeë oggendure van Saterdagoggend 18 Junie 2022 plaasgevind.
Mpumalanga-polisiewoordvoerder, brigadier Selvy Mohlala, sê volgens aanvanklike inligting het die voorval omstreeks 04:20 plaasgevind toe die twee mans in die Mc Donald’s Highveld-winkelsentrum was. ‘n Geskil het tussen die twee mans oor ‘n kosbestelling ontstaan.
Mohlala het gesê die onbekende manlike verdagte het ‘n skerp voorwerp uitgehaal en die slagoffer gesteek.
“Die verdagte het van die toneel weggehardloop en sy voertuig, ‘n rooi Golf, op die toneel agtergelaat. Paramedici het op die toneel aangekom, maar die slagoffer is dood verklaar.”
Bronne: MSN, News24
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.



