Paartjie met reuse ouderdomsverskil beplan baba

FiND iT het vroeër berig oor ‘n 24-jarige se verlowing aan ‘n 61-jarige, wat ‘n debat oor die ouderdomsverskil in verhoudings begin het. Nou beplan dié paartjie om hierdie jaar nog ‘n baba in die wêreld te verwelkom.

In 2021 het Cheryl McGregor met haar man, Quran McCain, getrou na hulle in 2012 in Georgia ontmoet het.

McCain, wat toe net 15 jaar oud was, het destyds vir Cheryl se seun gewerk.

Agt jaar ná hulle eerste ontmoeting het die twee weer bymekaargekom. Hulle het vir ‘n jaar uitgegaan voor McCain besluit het om die groot vraag te vra.

Na hulle troue, wat vir meer as 20 000 mense uitgesaai is, het die paartjie besluit om ‘n baba in die lewe te bring.

“Hy wou nog altyd kinders gehad het,” sê Cheryl, wat 17 kleinkinders van haar eie het. “Natuurlik, as gevolg van my ouderdom, oorweeg ons ‘n surrogaatma of om aan te neem.”

Volgens The Mirror het al sewe Cheryl se kinders ingestem om te help om die nuwe babatjie groot te maak.

Haar kleinkinders het McCain ook in hulle lewens aanvaar en noem hom Oupa.

Die ouderdomsverskil tussen die twee lok baie kommentaar uit op TikTok, waar McCain met 2,2 miljoen volgelinge spog en gereeld video’s van hom en Cheryl deel.

Baie TikTokkers sê hulle ondersteun die paartjie in hulle besluit, en ander is heeltemal gekant daarteen. McCain hou egter vol die verhouding tussen hom en Cheryl is ernstig, en beskryf hulle as ‘n goeie “span”.

“Sy is my vrou. Tot die dood ons skei, ons gaan nêrens nie. Vir altyd,” sê hy.

Leave a Reply

Your email address will not be published.