20% jong kinders in Gauteng nie ingeënt teen masels nie

Deel hierdie storie / Share this story

Die DA-woordvoerder in Gauteng, Jack Bloom, is bekommerd oor die vier gevalle van masels in Gauteng.

Bloom is bang dit kan lei tot ‘n groter uitbreking omdat ongeveer 20% van jong kinders nie ingeënt is nie.

Die masels-entstof is veronderstel om aan alle kinders in dosisse op ses en nege maande gegee te word.

Syfers van die Gautengse gesondheidsdepartement toon dat inentingsyfers vir masels se tweede dosis die laaste paar jaar tot sowat 80% gedaal het.

Dit was vroeër naby aan 100%, maar het afgeneem, selfs voor die ontwrigting wat deur die Covid-19-pandemie veroorsaak is.

Masels is hoogs aansteeklik en kan lei tot ernstige komplikasies en selfs die dood by jong kinders wat immuunonderdruk en ondervoed is.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) word twee of meer gevalle in ‘n enkele distrik as ‘n uitbreking beskou. Die aangemelde gevalle tot dusver is drie in Tshwane, en een geval aan die Wes-Rand.

Die DA doen ‘n beroep op alle ouers om op hoogte te bly van alle kinderentstowwe wat gratis by openbare klinieke beskikbaar is.

Die Gautengse gesondheidsdepartement moet spesiale maatreëls tref om die afname in mense wat hulle kinders teen masels laat inent, om te keer.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.