Jong Fanele Memela is in ‘n wedloop om oorlewing teen ‘n seldsame bloedkanker wat verskerp het nadat nie een van haar familie ‘n geskikte stamselskenker is nie.
Die Suid-Afrikaanse Beenmurgregister (SABMR) pleit vir skenkers om na vore te kom, aangesien hulle Fanele en ander in soortgelyke nood kan red.
Die sesjarige Fanele van Durban, Kwa-Zulu-Natal, is in Maart vanjaar met akute myeloïede leukemie gediagnoseer. Sy het ’n desperate behoefte aan ’n stamseloorplanting wat haar lewe kan red.
Ongelukkig is nie een van Fanele se familielede lewensvatbare beenmurg-stamselskenker-pasmaats nie, dus het die SABMR ‘n landwye soektog begin om ‘n geskikte skenker te vind.
Die organisasie is besig om hul skenkerwerwingspogings op te skerp in die hoop om die vonkeloog Fanele ‘n tweede kans te gee.
Die jongeling ondergaan tans chemoterapie totdat ‘n bypassende skenker gevind word.
Fanele se ma, Gugu Mkhulisi, sê as ouer is al wat sy wil doen om haar kind te help en te beskerm, maar sy is in ‘n onbenydenswaardige situasie en daar is min wat sy daaraan kan doen.
“Ek moet staatmaak op die vrygewigheid en welwillendheid van ander. Dit het my hart gebreek toe die dokters die nuus deel dat nie een van ons Fanelekan help nie. Alhoewel hierdie reis moeilik was, het dit my oë oopgemaak vir soveel waarvan ek nie geweet het nie. Ek het geleer van die groot tekort aan swart skenkers op die register, wat dit so moeilik maak vir kinders soos Fanele om die hulp te kry wat hulle nodig het,” sê Mkhulisi.
Mkhulisi dink Fanele is ‘n superheld en hoop sy kry die tweede kans waarvoor sy wens.
“Haar toekomstige aspirasies verander so gereeld soos die weer. Sy wil nie meer ’n dokter soos ek wees nie, maar eerder ’n sangeres. Fanele is lief vir haar klein ses maande oue boetie en ek sal daarvan hou dat hulle saam grootword,” sê Fanele se ma Gugu.
Volgens die SABMR maak swart skenkers slegs ‘n skamele 10% van alle geregistreerde skenkers uit wat beteken daar is ‘n skrale kans om ‘n pasmaat vir Fanele en ander kinders in soortgelyke situasies te vind.
Dit word verstaan dat die beste kans vir ‘n pasiënt om ‘n pasmaat te vind binne hul eie etniese groep is.
Bronne: MSN, The World News
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.



