Ouers stukkend: Geen behandeling vir vierjarige se breingewas

Deel hierdie storie / Share this story

Die ouers van die vierjarige Lieben, Leandri en Jaco van Zijl, het Maandag die hartverskeurende nuus ontvang toe dokters hul meegedeel daar is geen behandeling vir Lieben se breingewas nie.

“Die dokters het nou uitgevind dat Lieben se gewas ‘n volwasse teratoma breingewas is. Dit is nie kwaadaardig nie, dus is daar geen behandeling daarvoor nie,'” het ‘n emosionele Leandri vertel.

Lieben kon op 4 Junie, na ‘n operasie waartydens ‘n biopsie gedoen is sodat dokters kan probeer vasstel presies waaruit die gewas bestaan, regop sit en self eet.

Die vinnig-groeiende gewas veroorsaak drukking op senuwees en dit veroorsaak dat Lieben se visie aangetas word en dit vertraag ook sy reaksies. Die hopsitaalspan het ‘n Ommaya reservoir direk in die sist geplaas om die drukking laag te hou.  Die Ommaya is ‘n “strooitjie” wat vog dreineer en medikasie kan dan ook direk hierdeur toegedien word. Dit is ‘n ongewone prosedure en die ligging van die gewas maak dit uiters gevaarlik.

Hoewel die gewas nie kwaadaardig is nie, kan dit weens die gevaarlike ligging in Lieben se breintjie, nie uitgesny word nie.

Soms verander die volwasse teratoma in ‘n onvolwasse teratoma en kan dan met bestraling behandel word. Dit gebeur egter nie sommer nie.

Die onkoloog en Lieben se mediese span gaan hierdie week vergader om te besluit wat hulle verder kan doen. Die risiko om die gewas uit te haal, is net te groot in klein Lieben se geval en moet ten alle koste vermy word. Die tipe bestraling wat in so ‘n geval aangewend word, is ook baie skadelik vir kinders.

Groot besluite gaan volgende week geneem moet word.

“My hart is in duisend stukke. Ek kry skaars gesien deur al die trane,” het Leandri afgesluit.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.