Die Amerikaanse rockgroep, OneRepublic, het op Instagram aangekondig hulle kom in Suid-Afrika optree.
Dit volg nadat Covid-19 die afgelope twee jaar musiektoere, nasionaal en internasionaal, gefnuik het.
Die rockgroep sal op Dinsdag 15 November by die GrandWest-casino se Grand Arena in Kaapstad wees en Vrydag 18 Desember by die SunBet-arena by Time Square in Pretoria.

“Ons is verheug om hierdie jaar nuwe aanbiedings aan te kondig. Kaartjies vir Israel is op die oomblik te koop en kaartjies vir Suid-Afrika sal eerskomende Vrydag beskikbaar wees. Kan nie wag om almal daar te sien nie,” het die groep op Instragam geskryf.
OneRepublic is bekend vir treffers soos Counting Stars, Love Runs Out en I Lived. Hulle het ook op Timbaland se 2007-treffer-enkelsnit, Apologize, verskyn.
Dié liedjie het die nommer een plek bereik in verskeie lande, insluitend Australië, Kanada, Italië en Switserland.
OneRepublic se nuutste liedjie, I Ain’t Worried, is ook besig om op die trefferlyste te klim. Die enkelsnit verskyn in die nuwe Top Gun-fliek.
‘n Video van die liedjie het in Mei verskyn, en die groep het dit as een van hul beste ooit beskryf.
OneRepublic se Someday word steeds op die East Coast Radio Top 40 gelys. Dit is tans op nommer 24 op die lys.

Kaartjies is by Ticketmaster beskikbaar en verkope open Vrydag 10 Junie om 09:00.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.



