Polisie ondersoek dood van 11 maande oue baba na hy van bed val

Deel hierdie storie / Share this story

Die polisie op Ventersburg is besig met ‘n geregtelike doodsondersoek nadat ‘n 11 maande oue seuntjie dood is nadat hy na bewering van ‘n bed afgeval het.

Vrystaatse polisiewoordvoerder, kaptein Stephen Thakeng, het gesê die polisie het inligting van ‘n lid van die publiek ontvang oor ‘n “kindermoord” by die huis in Wilsonstraat, Ventersburg.

Thabeng het gesê ’n voorlopige ondersoek het aan die lig gebring dat die kind op 20 Mei uit die bed geval het.

Die kind het na bewering ‘n ernstige kopbesering opgedoen en is die volgende dag na die Bongani-hospitaal geneem vir mediese aandag en daarna na die Universitas-hospitaal in Bloemfontein oorgeplaas.

Hy is op 27 Mei in die hospitaal dood. Thabeng het gesê daar is ’n bewering dat die ouers die kind mishandel het.

“Nadat die stasiebevelvoerder van Ventersburg, kaptein Odendal, die bewering aangehoor het, is ’n saak van doodsondersoek onmiddellik geregistreer sodat ’n deeglike ondersoek gedoen kan word.”

Die polisie het gesê ‘n nadoodse ondersoek sal ook gedoen word.

“Niemand is nog in hegtenis geneem nie, maar ons bekom tans waarskuwingsverklarings van die ouers sowel as die voog. Ons doen ‘n beroep op inwoners van Ventersburg indien hulle enige beweerde mishandeling teen iemand gewaar, die plaaslike polisie dadelik in kennis gestel moet word, sodat die wiele van geregtigheid kan begin rol,” het Thabeng gesê.

Bronne: IOL, MSN, Ghanamma

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.

Lees ook: Baba sterf nadat hy glo uit bed val