Drie kinders is vanoggend, Woensdag 1 Junie, dood ná ‘n taxibestuurder na bewering beheer oor ‘n minibus verloor het op die R34 sowat 7 km buite Bloemhof.
Na wat verneem is was die minibustaxi onderweg van Hoopstad na Bloemhof waar die kinders skoolgaan, berig die Parys Gazette.
Die R34 was al verskeie kere vanjaar in die nuus oor die swak toestand van die pad met sy vele slaggate. Die Vrystaatse premier, Sisi Ntombela, het juis Dinsdag, net ‘n dag voor die ongeluk, die pad besoek en gesê 25 mense het reeds vanjaar op die pad gesterf.
Met die soveelste sluiting van die berugte R30 in April vanjaar is motoriste wat tussen Welkom en Kroonstad beweeg onder meer aangeraai om die R34 as alternatiewe roete te gebruik.
Motoriste, veral boere, het die afgelope maand hul frustrasie met die haglike toestand van paaie in die Vrystaat, waarvan baie onbegaan is weens swak instandhouding, uitgespreek.



