KIMBERLEY. – ‘n Karwas, wat op die hoek van Milnerstraat en Du Toitspanweg aan die Milnerstraatkant van die erf oopgemaak het, moes vandag toemaak nadat Sol Plaatje bevind het daar is geen toestemming verkry vir dié besigheidsaktiwiteit nie. Die erf bedryf reeds die kafee, @Mac’s, vanaf Du Toitspan se kant af.
Dit volg na klagtes van meer as 22 inwoners in Milnerstraat, wat ‘n residensiële en erfenisarea is. Die huise in dié straat is meestal meer as 100 jaar oud en word onder streng maatreëls en voorgeskrewe reëls aangaande verbeteringe aan die aansig en binnekant van die huis, deur die Erfenisraad bedryf. Die huise is histories van aard en baie van die huise is as historiese monumente bestempel.
Thoko Riet, woordvoerder vir die Sol Plaatje-munisipaliteit, het bevestig die eiendom het slegs besigheidsregte bekom vir die gebruik as ‘n “plek van verversing en woonarea”.
Riet het bevestig die karwas, wat ‘n opeenhoping van motors in die straat veroorsaak, sonder enige insittendes en afbreuk doen aan die area se bewarings-etos, is onwettig. “‘n Kennisgewing van nie-nakoming van die soneringsbeperkings is uitgereik,” het Riet gesê. Die karwas moes dus met onmiddelike effek toemaak.
Timothy Ratha, van die Erfenisraad in die Noord-Kaap, het bevestig dié raad ondersoek die veranderinge wat aan die kant van Milnerstraat, by die karwas, aan die eiendom gemaak is, asook die opening van die karwas. “Ons het geen aansoek ontvang nie.”
Inwoners in die straat het ook bevestig hulle is nie in kennis gestel van die voorneme om die erf te hersoneer of ‘n karwas daar oop te maak nie.
Die bestuurder van die kafee, @Mac’s, wat op die erf bedryf word, het aan FiND iT se verslaggewer gesê sy sal die “saak verder vat” as haar naam genoem word, asook dat dit ‘n “rassistiese aanval” van inwoners is. “Toe ‘n wit vrou die plek gehad het, het niemand gekla nie.”
FiND iT het uitgereik na die eienaars van die gebou, wie môre oor ‘n Zoom-vergadering die aangeleentheid sal bespreek.



