10-jarige probeer homself glo hang by nasorg

Deel hierdie storie / Share this story

‘n 10-jarige is in die hospitaal opgeneem nadat hy glo Donderdagmiddag (26 Mei) probeer het om sy eie lewe te neem by die nasorgsentrum Smiley Kids Boksburg-Noord, berig die Boksburg Advertiser.

Die Smiley Kids-bestuur het die voorval bevestig en gesê die seun wat homself probeer leed aandoen het, het na bewering probleme by die huis, asook met aggressie.

Volgens die sentrum was hul besig om sielkundige hulp vir hom te reël, maar toestemming van die ouers word vereis.

“Sy ma het uiteindelik Woensdagaand (25 Mei) vir ons die toestemmingsbrief gegee wat die skool toegelaat het om hulp vir die seun te reël. Hy het egter Donderdag probeer om homself leed aan te doen terwyl ons nog in die proses was om hom deur Kuselo Kinder- en Jeugdienste te kry,” het die skoolbestuur gesê.

Hy het nie Donderdag badkamer toe gegaan soos hy  gesê het nie en na ‘n gedeelte van die nasorgsentrum se erf gegaan waar die onderwysers hom nie kon sien nie, aangesien hulle saam met die ander kinders in die klaskamers was.

Die skool het bygevoeg die seun is tans in die Charlotte Maxeke Johannesburg- akademiese hospitaal, waar hy in ‘n stabiele toestand is.

Shelton Botes, bemarkingshoof by Laerskool Goudrand, het aan Boksburg Advertiser bevestig die seun is een van hul leerders.

Die Boksburg-Noord SAPD-woordvoerder kon nie dadelik bevestig of die polisie die voorval ondersoek nie.

Volgens ‘n goedgeplaaste bron is die polisie egter bewus van die voorval en ontleed kringtelevisie-videomateriaal van die toneel.

Die bron het aan dié publikasie gesê in die videogreep word gesien hoe die kind na ‘n oerwoudgimnasium stap met ‘n serp om sy skouers, wat hy toe gebruik het om homself aan die oerwoudgimnasium op te hang.