Die polisie in Motherwell, Gqeberha, soek die gemeenskap se hulp om verdagtes op te spoor wat betrokke was by ‘n verbyry-skietery wat vroeër die week twee mense se lewens geëis het.
Siyabulela Olayi (29) en Ulundi Mpulu (23) het Maandag omstreeks 18:50 in Tyityabastraat, NU10, Motherwell gery.
Nog ‘n voertuig het van agter af gekom en op hul voertuig begin skiet, het polisiewoordvoerder, kapt. André Beetge, gesê.
Olayi was die bestuurder van die motor en Mpulu was in die passasiersitplek. Die twee het na bewering beheer oor hul voertuig verloor en teen ‘n houer langs die pad gebots.
Die verdagtes het voortgegaan om op hulle te skiet voordat hulle weggejaag het. “Albei mans is ernstig in die aanval gewond en is deur onbekende persone na ‘n hospitaal gehaas.
Siyabulela (met verskeie skietwonde aan sy bolyf en bene) is op pad na die hostpitaal oorlede.
Ulundi is in ’n ander hospitaal oorlede weens ’n skietwond aan sy bors,” sê kapt. Beetge. In dié stadium is die motief vir die verbyry-skietery wat twee mense se dood gekos het, onbekend.
Die polisie soek steeds na die verdagtes.
Bronne: MSN, The World News
Volg FiND iT hier.
Lees ook: Elf pasgebore babas sterf in Senegal-hospitaalbrand



