Laerskool Eureka-juffrou neem deel aan Brug-na-berg 2022

Deel hierdie storie / Share this story

Carli Beukes is al vir twee jaar lank ‘n juffrou by Laerskool Eureka. “Ek was self daar op skool en dis vir my ‘n groot voorreg om ook daar te kan skoolhou.” Sy is ‘n graad 3-juffrou en gee Afrikaans, Engels, wiskunde en LV. “Ek geniet al daardie vakke, maar ek sou sê ek geniet wiskunde die meeste. Dis so lekker om kinders se liggies te sien aangaan as ek vir hulle iets verduidelik wat hulle nie verstaan nie.”

Vir Carli is die lekkerste ding van skoolgee die kleintjies. “Ek geniet hulle baie. Hulle het baie oulike sêgoedjies. Die heel lekkerste is om te weet ek maak elke dag ‘n verskil in ‘n kind se lewe. Kinders is baie beïnvloedbaar as hulle jonk is, dis vir my belangrik om te weet ek maak ‘n impak op hulle lewe. En vir ten minste ses ure elke dag is jy in hulle omgewing en spasie, en hulle in joune. So ‘n mens leer ook baie van jouself.”  

“Ek sou nie sê daar is iets sleg aan skoolgee nie, dit is wel tydrowend. Na skool is dit toetse merk en vraestelle opstel. Dit is nie sleg nie, ek sien dit as die moeite werd. Dit wat wel sleg is vir my is as ek weet kinders se huislike omstandighede is nie lekker nie, en ek stuur hulle huis toe en ek kan hulle nie by my hou en versorg nie. Dit is ‘n uitdaging van skoolgee.”

Sy sê sy het eers ‘n week voordat Brug na Berg sou plaasvind daarvan gehoor. Hulle het 07:00 die oggend weggespring in Kimberley by John Dory’s en die 115 km na Hopetown afgelê tot by die padstal. “Toe ek hoor van Brug na Berg, het ek eers nee gesê. Ek het gedink ek gaan dit nie maak nie, ek het glad nie hard genoeg geoefen daarvoor nie. Al die geld wat gemaak is, was vir liefdadigheid.

Ek ry nou al twee jaar fiets en het baie hard geoefen vir die Argus in Maart. Ongelukkig kon ek toe weens onvoorsiene omstandighede nie deelneem nie. Ek het probleme gehad met my fiets. Alhoewel ek nie spesifiek vir Brug na Berg geoefen het nie, dink ek ek sou beter gevaar het as ek langer en harder geoefen het.

Carli sê sy kon dit rêrig nie doen sonder haar kêrel nie, hy is haar nommer 1-ondersteuner. “Hy is ‘n groot fietsryer in die Kaap. Hy help my baie met my oefenprogram en wat ek moet eet. Hy motiveer en help my regtig baie. Alle eer aan my Hemelse Vader by wie ek al my krag kry. Ek het baie gebid op die pad. Ek het regtig vir die Here gesê ek is baie moeg en gevra Hy moet my asseblief krag gee, en Hy het dit regtig vir my gegee. Ek is baie dankbaar vir my talent om te kan fietsry.”

Carli was algeheel eerste in die vroue-kategorie vir gravel bikes.