’n Amerikaanse romanskrywer wat ’n essay geskryf het met die titel How To Murder Your Husband is skuldig bevind aan die moord op haar man.
‘n Jurie in Portland, Oregon, het Woensdag net agt uur geneem om ‘n skuldigbevinding teen Nancy Crampton Brophy te lewer omdat sy Daniel Brophy doodgeskiet het.
Aanklaers het gesê die skrywer, wie se Wrong Never Felt So Right reeks romans The Wrong Husband en The Wrong Lover insluit, het finansieel gesukkel voordat sy haar man in Junie 2018 twee keer deur die hart geskiet het by ‘n kulinêre instituut waar hy gewerk het.
Crampton Brophy (71) het die aanklag ontken en daarop aangedring dat beeldmateriaal van sekuriteitskameras wat haar op die toneel van die misdaad geplaas het, bloot gewys het dat sy soek na skrywersinspirasie.
Sy het ook beweer ‘n vermiste geweer, wat die polisie glo die moordwapen is, is gekoop as deel van navorsing vir ‘n roman, en het ontken dat die honderdduisende dollars se lewensversekering wat sy sou kry, ‘n motief vir moord was.
Crampton Brophy se prokureurs het gesê hulle sal appelleer teen die tweedegraadse moord-skuldigbevinding, het die koerant The Oregonian berig.
“Nancy Brophy was lief vir haar man,” het prokureur Kristen Winemiller aan die jurie tydens die verhoor gesê. “Jy kan dit in haar oë sien elke keer as sy oor hom praat. Haar oë het verlig, hulle het absoluut gevonkel.”
Crampton Brophy is in September 2018 gearresteer en is sedertdien in aanhouding. Die skrywer, wat deur lewenslange tronkstraf in die gesig gestaar word, sal op ‘n later datum gevonnis word.a1.
Bronne: The South African, Yahoo
Volg FiND iT hier.
Lees ook: Elf pasgebore babas sterf in Senegal-hospitaalbrand



