Die DA vra Suid-Afrikaners om ‘n brief wat hy aan die minister van minerale hulpbronne en energie en die minister van finansies gerig het oor die buitensporige pryse van brandstof in die land, te teken.
In die brief wat die DA aan Gwede Mantashe en Enoch Godongwana gerig het, sê hy dis tyd vir die regering om dringend te sny aan die belasting op buitensporige petrolpryse om sodoende petrolpryse, kos en lewenskostes vir Suid-Afrikaners te verminder.
Die DA sê die ANC “misbruik” Suid-Afrikaners nou al vir dekades met die hoë brandstofpryse. Die DA sê ook as die ANC belasting op brandstof verminder, kan die koste van brandstof tot ‘n derde verlaag.
Om Suid-Afrikaners te help om kos te bekostig of ‘n taxi, bus of ‘n kar te kan gebruik om by die werk te kom en aan die lewe te bly, stel die DA voor dat, onder andere, die brandstofprys dadelik verminder word, die padongelukfonds vervang word met ‘n sisteem wat nie byvoeg tot die brandstofprys nie en ‘n dringende debat van nasionale belang begin word.



