Tiener skiet 21 by skool dood

Deel hierdie storie / Share this story

Minstens 19 leerders en twee volwassenes is dood toe ‘n 18-jarige by ‘n skool in Texas met ‘n vuurwapen losgebrand het.

Volgens president Joe Biden het die gewapende man, Salvador Ramos, by Laerskool Robb in die stad Uvalde begin skiet, voordat hy deur wetstoepassers doodgeskiet is.

Ondersoekers sê die verdagte was met ‘n handwapen en ‘n AR-15-semi-outomatiese geweer wat met ‘n magasyn van hoë kapasiteit toegerus is, gewapen.

Volgens BBC News word daar vermoed dat hy eers sy ouma doodgeskiet het en toe na die skool toe gery het waar hy wild op enigeen wat in sy visier was, geskiet het.

Die stad se polisiehoof, Pete Arredondo, het gesê die skietery het Dinsdag om 11:32 plaaslike tyd begin, en dat ondersoekers glo die aanvaller “het alleen opgetree tydens hierdie gruwelike misdaad”.

In ‘n toespraak in die Withuis het ‘n woedende president Biden gesê hy is “siek en sat” om op massaskieterye te reageer, aangesien hy ‘n beroep op wapenbeheer gedoen het.

“Hoeveel klein kindertjies het gesien wat gebeur het? Hoeveel het gesien hoe hul vriende sterf, asof hulle op ‘n slagveld is?” het hy gevra. “Hulle sal die res van hul lewe daarmee saamleef.”

Hy het beveel dat vlae by die Withuis en ander Amerikaanse federale geboue halfmas gehys moet word ter ere van die slagoffers.

Alle klasse en aktiwiteite by die skool is nou vir die res van die jaar gekanselleer.