’n Ortopediese chirurg betwis Johnny Depp se weergawe van ’n bakleiery met Amber Heard waartydens sy vinger glo gesny is.
Tydens sy getuienis op Maandag 23 Mei in die Virginia-hof het dr. Moore gesê die 58-jarige akteur se bewerings dat sy eks-vrou (36) ‘n vodkabottel na hom gegooi het, strook nie met wat gesien word op die kliniese foto’s nie.
Namate die lasterverhoor van $100 miljoen (R1,6 miljard) tussen eks-gades Depp en Heard in sy sesde en laaste week inbeweeg, val al hoe meer bomme.
Beide Depp en Heard dagvaar mekaar vir laster en fisieke mishandeling tydens hul huwelik wat van 2015 tot 2016 vir minder as twee jaar geduur het.
Volgens die Pirates of the Caribbean-ster het Heard tydens een van hul hewige gevegte ‘n bottel na hom gegooi wat sy vinger gedeeltelik vermink het.
Volgens The Guardian, toe Depp op 20 April oor die voorval getuig het, het hy verduidelik dat dit tydens die verfilming van een van die Pirates of the Caribbean-franchisefilms in Australië in 2015 plaasgevind het.
“Bloed het gevloei … ek dink ek het in een of ander … ek weet nie hoe ’n senuwee-ineenstorting voel nie, maar dit is waarskynlik die naaste daaraan wat ek nog ooit was. Niks het sin gemaak nie,” is hy aangehaal.
Dr. Moore glo egter dat Depp se weergawe nie ooreenstem met die werklike besering nie, berig The Independent.
Die ortopediese chirurg het Maandag in die hof getuig: “Ek kon geen bewyse sien van skade aan die vingernael wat mens sou verwag van ‘n besering wanneer die vinger van bo deur ‘n bottel getref is nie.”
Die Daily Mail het verder berig Moore het bygevoeg dat dokters wat Depp se hand ondersoek het, nie opgemerk het dat daar enige glasskerwe in sy hand was nie.
Volgens die publikasie het die dokter verder gesê die besering lyk meer soos ‘n vinger wat tussen twee harde oppervlaktes, soortgelyk aan skuifdeure, ingedruk is.
Bronne: The South African, Yahoo
Volg FiND iT hier.
Lees ook: Chris Rock dink Amber Heard is ‘skuldig’ na ontlasting



