Drie onbekende liggame met koeëlwonde in ‘n veld in Mangaung gevind

Deel hierdie storie / Share this story

Die liggame van drie onbekende mans is Saterdag in ‘n oop veld naby die kruising van die N6- en R702-paaie in Mangaung, in die Vrystaat, ontdek.

’n Man wat bos toe gegaan het om hout te kap, het op die liggame afgekom. Hy het toe die Kagisanong-polisie in kennis gestel.

Luitenant-kolonel Thabo Covane, woordvoerder van die Vrystaatse polisie, het gesê ‘n patrollievoertuig is uitgestuur na die toneel.

“By hul aankoms het die lede drie liggame van onbekende mans gevind wat naby mekaar in ‘n plas bloed gelê het. Twee slagoffers se hande was steeds agter hul rûe met skoenveters vasgebind en die derde slagoffer se veters was reeds los,” het Covane gesê.

Die polisie se forensiese deskundiges is na die toneel ontbied en dis gevind die drie onbekende mans is verskeie kere in die kop, nek en bolyf geskiet.

Die polisie het ’n soektog van stapel gestuur na verdagtes wat by die moord op die drie betrokke was.

Covane het gesê die leë patroondoppies en motorspore wat op die toneel gevind is, dui daarop dat die slagoffers moontlik vervoer is en hul lewens daar geëindig het.

Sake van moord is by die Kagisanong-polisiestasie geopen.

Bronne: News24, The South African

Volg FiND iT hier.

Lees ook: KZN-honde bly by oorlede eienaar