Martin Viljoen, die woordvoerder van die Universiteit Stellenbosch (US), sê tans word nog ‘n beweerde voorval van rassisme ondersoek wat glo Donderdag 12 Mei by ‘n dansfunksie van die regsfakulteit plaasgevind het. Daar is blykbaar rassistiese opmerkings teenoor ‘n vroulike student gemaak.
Universiteitsowerhede is in gesprek met individue wat ‘n funksie deur die regsfakulteit gereël het, asook met fakulteitsleierskap, en studenteverteenwoordigers om vas te stel wat die feite van die voorval is, en om ook meer inligting oor die formele klagte deur die betrokke student te bekom.
“Owerhede verbonde aan die universiteit het met die betrokke student vergader, en is sy bygestaan in die proses om die saak by die universiteit se gelykheidseenheid aan te meld. Die regsfakulteit sal ook verder verseker dat sy toegang tot die nodige beradingsdienste het,” sê Viljoen in ‘n verklaring.
“Die universiteit het kennis geneem van die openbare verklaring wat vandag deur die US juridiese vereniging uitgereik is en sal direk met hulle in gesprek tree as ‘n sleutelbelanghebbende in hierdie aangeleentheid.
“Die US-gemeenskap sal voortgaan in sy pogings om ’n werkbare en volhoubare pad vorentoe te vind, en te verseker dat die regte van almal op die kampus beskerm en bevorder word, in die belang van die ontwikkeling en akademiese prestasie van ons jeug, en gesien as ons nasie se toekomstige leiers.
“Die US herhaal weer dat sy onwrikbare prioriteit is om ‘n veilige en inklusiewe omgewing vir al sy studente te bied en om ‘n verwelkomende en veilige studentegemeenskap te handhaaf waar sosiale samesyn bevorder word om kwaliteit tersiêre onderwys aan almal te bied.
“Die US veroordeel ten sterkste enige vernietegende of diskriminerende gedrag wat die regte van enige student of lid van die gemeenskap van die Universiteit skend.
“Rassisme of vooroordeel in enige vorme het geen plek by die US nie, en indien dit sou voorkom, sal dit in beginsel tot die volle omvang van die toepaslike wette en regulasies hanteer word,” sluit Viljoen af.



