“Die Here weet die beste. Altwee sy bene sou geamputeer moes word. En hy was so ‘n avontuurlustige mens. Die Here weet die beste.”
Dit is die woorde van ‘n stukkende Roelien Flemming oor haar 37-jarige seun wat Dinsdagoggend om ongeveer 10:00 oorlede is.
Alex Flemming, die pa van twee seuns en twee dogters, Zandre, Liezl, Xanrick en Janelle, was Sondagmiddag in ‘n baie ernstige motorfietsongeluk betrokke.
Roelien sê haar seun het Sondag saam met ‘n motorfietsklub op Petrusburg middagete gaan eet en dit was op pad terug na Kimberley wat die ongeluk gebeur het. “Alex het probeer om verby ‘n motor te ry. Maar jy weet, die son skyn van daardie kant af direk in jou oë. Toe hy sien dat daar ‘n ander motor van voor af kom, het hy probeer terugswaai agter die eerste motor in. Sy motorfiets het aan die motor gehaak en hy is in die veld in geslinger.”
Alex het verskriklik seergekry. Sy bekken is op drie plekke gebreek, beide sy bene was gebreek, en beide sy arms was gebreek. “Hy is dadelik in vir ‘n noodoperasie en hy is daardeur. Die dokter het ons Dinsdagoggend gebel en gesê dinge lyk nie goed nie,” sê Roelien.
Roelien sê sy en haar man was heeldag by die ICU en sy was laaste by Alex voor hy oorlede is.
“My seun was van kleintyd af motorfietsmal,” onthou sy. “Hy het Vrydag ‘n motorfiets gekoop na hy vir ‘n ruk nie gery het nie.”
Alex is op 13 Junie 1984 in Klerksdorp gebore. Hy was in HF Verwoerd op laerskool en het in 2002 matriek geskryf by Hoërskool Diamantveld in Kimberley.
Hy was n stoere Blou Bul-ondersteuner. Hy is die oudste seun van Jan en Roelien Flemming, albei oud onderwysers van Kimberley.
Alex sou volgende maand sy 38ste verjaarsdag vier.
“Maar die Here weet beter,” sê Roelien. “Beide sy bene sou geamputeer moes word. Daar waar die Here ‘n punt sit, sit jy nie ‘n vraagteken nie.”





