Secunda val uitmekaar volgens inwoners

Inwoners in Secunda is raadop oor die rioolprobleem in dié dorp.

Jan du Plessis, Afriforum se takvoorsitter in die area, sê slegs Secunda se riool-pompstasie werk. Die een in Evander werk glad nie. “Kinross se pompstasie werk ook nie. Die opgegradeerde watersuiweringsaanleg moes al September 2021 in werking gewees het. Dit het nog nie gebeur nie.”

Du Plessis sê Embalenhle se pompstasie en watersuiweringseenheid is óók buite werking. “Die Lebohang-gebied se riool vloei af na die Waterval-rivier, asook Dewfresh en die slagpale se water.
“Eendracht werk nog op die putsisteem. Die trok om leeg te suig, is telkens vir weke nie beskikbaar nie, wat die riool in die strate af laat stroom.”

Verder sê hy Bethal se pompstasie en suiweringsaanleg gee ook probleme en daar was al in 2011 ‘n verslag vrygestel wat ‘n opgradering by Trichardt voorstel.

Donderdag, 19 Mei, is daar ‘n Watervalriver Catchment Forum-vergadering en Junie-maand volg die Upper Olifantsriver Catchment Forum-vergadering.

“Ons is moeg gekla. Twee raadslede wat baie hard werk om ‘n verskil te maak, is Mariaan Chamberlain (DA) en Louise Jonker (VF+). “

Donald Green, woordvoerder vir die Govan Mbeki-munisipaliteit, het nie sy telefoon beantwoord nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published.