Kaapstadse hospitaalskieter glo eks-polisiebeampte

Deel hierdie storie / Share this story

Die polisie het onthul dat ‘n man wat ‘n polisieman ontwapen en drie mense Saterdagaand by die New Somerset-hospitaal in Groenpunt vermoor het, self ‘n voormalige offisier is.

Die skokkende skietvoorval het op die tweede verdieping van die chirurgiese saal gebeur, waar Seepunt SAPD-beampte, konstabel Donay Phillips, ‘n beseerde man bewaak het wat hy hospitaal toe gebring het vir behandeling.

Twee pasiënte is op slag dood terwyl konstabel Phillips Sondagoggend aan ‘n skietwond in die kop gesterf het.

Volgens die Wes-Kaapse polisiekommissaris, lt.genl. Thembisile Patekile, is die skieter ‘n voormalige polisiebeampte van Hopefield wat in 2006/7 ontslaan is.

Hy kon Sondag nie dadelik die rede vir die afdanking bekend maak nie.

Patekile het gesê die voorval was nie bendeverwant nie en dit lyk asof die slagoffers geskiet is terwyl hulle in hul hospitaalbeddens gelê het.

Polisiewoordvoerder brig. Novela Potelwa het die voorval bevestig: “Berigte dui daarop dat Seepunt-polisie ‘n 35-jarige verdagte na die New Somerset-hospitaal geneem het vir mediese aandag toe ‘n man in die saal die vuurwapen van ‘n polisiebeampte gegryp en hom deur die kop geskiet het. Die man het toe twee pasiënte wat in sy nabyheid was, geskiet. Albei is op die toneel dood en die 32-jarige polisiebeampte is ernstig beseer en het ongelukkig aan sy beserings beswyk. Die name van twee ander persone, onderskeidelik 42 en 48 jaar oud, wat tydens die skietvoorval dood is, moet nog bekend gemaak word.”

Een van die pasiënte was van Piketberg en die ander het geen bekende adres gehad nie, en was vermoedelik haweloos.

’n Dapper verpleegster het ná die skietery met die 40-jarige verdagte gepraat en hom glo oorreed om die vuurwapen te oorhandig.

Hy is toe verdoof voordat hy gearresteer is.

Bronne: IOL, EWN

Volg FiND iT hier.

Lees ook: Wes-Kaap man deur vragmotor verpletter [Video]