Adam Barnard se vrou maak oop oor sy siekte

Deel hierdie storie / Share this story

Adam Barnard, een van die lede van die gewese mansgroep Romanz, se vrou, Almitra Barnard, het haar hart oopgemaak nadat Barnard in die hospitaal opgeneem is en tans in ‘n koma is.

Barnard wag al vyf jaar vir ‘n nieroorplanting.

“Sedert Augustus 2021 het Adam ‘n reeks traumatiese struikelblokke ervaar en oorkom. Sommiges het letsels gelos, ander nie. Sommiges het ons laat skrik en toe het ons al gewonder of hy dit sal oorleef. Dan bewys hy ons elke keer hy het die wilskrag van Jesus.

“In Februarie 2022 het hy opgestaan uit sekerlik die swakste toestand waarin hy nog was. Hy het ons daagliks verbaas. Ons het verstom gestaan en kyk en geweet hy sal hierdeur kom en oor ‘n paar maande weer probeer werk aan ‘n oorplanting.

“Hierdie keer was anders. Sy liggaam is moeg. Sy siel en gees is moeg. Toe hy hoor dat hy weer opgeneem sou word vir infeksie was dit soos ‘n rots wat hy moet dra. Dit was aanvanklik nie so ernstig nie en sou vinnig wees. Tot verlede Saterdag wat hy weer op die ventilator gesit is. Hy het enkele oomblikke voor dit nog gepraat. Daarna het hy nog nie weer sy bewussyn bereik nie en min tot geen reaksie getoon nie. Hy het tans ‘n span van vier dokters oor hom, die beste.

“Ons as familie het hierdie gesprek deur en deur en oor en oor gehad. Adam is ‘n vegter. Hy het vir 37 jaar geveg. Hy het nou vir die eerste keer in ‘n lang tyd geen pyn of ongemak nie. Dit is ons wens vir hom. Ons almal poog daagliks om beter mense te wees sodat ons uiteindelik die hemel kan betree. Waarom dan die dood so vrees?

“Dit bly God se wil. En Adam se wil was om voluit te leef. So ons bid nou dat indien hy dit oorleef hy funksioneel sal wees en voluit kan leef. Indien God hom na sy ewige huis toe neem, het ons vrede daarmee. Adam verdien rus. Hy verdien om weer ‘n liggaam te hê wat kan hardloop en sing. Hy verdien om pynvry te wees.

“Bid asb. saam met ons vir God se wil. Wêreldwyd bid mense, so kom ons staan saam vir of ‘n wonderwerk op aarde of die vryheid van die ewige lewe.

Dankie vir elke boodskap, oproep en gebed.”