Mensehandel klink dalk soos iets uit ‘n fliek, maar dit is baie meer werklik as wat jy dink.
Sewe plekke in Gauteng is deur die #TheTraffickYouNeedToKnow-veldtog, wat op Vryheidsdag in Suid-Afrika geloods is, as brandpunte vir die werwing van slagoffers van mensehandel geïdentifiseer.
Dit sluit in: Springs; Benoni; Fordsburg; Krugersdorp; Sunnyside; Vereeniging en Vanderbiljpark.
Dít is volgens inligting wat NRO – A21, die National Freedom Network en Think Creative Africa bekendgemaak het.
Volgens die veldtog is mensehandel die vinnigste groeiende kriminele bedryf ter wêreld, wat meer as R258 triljoen in geldwaarde per jaar genereer.
Daar word beraam dat 2,8 uit elke 1 000 mense in Afrika in hedendaagse slawerny leef.
Die verslag sê dat mensehandel seks-handel, dwangarbeid, huishoudelike diensbaarheid, gedwonge huwelike, baba’s, organe en gedwonge onwettige aktiwiteite insluit, waaraan die slagoffers onderwerp word.
64% van die slagoffers van mensehandel wat in Afrika aangemeld is, is kinders.
Die gebiede waar meeste slagoffers aangehou is, met talle suksesvolle reddingsoperasies wat die afgelope tyd uitgevoer is, sluit in: Hillbrow; Randburg; Moreletapark; Pretoria; Springs en Heidelberg.
Al die nasionale brandpunte vir hierdie misdade kan in een provinsie, Gauteng, gevind word.



