Die Imperiale somer-reeks deur Karel Schoeman word deur Protea Boekhuis gepubliseer.
Die reeks bestaan uit Imperiale somer: Suid-Afrika tussen Oorlog en Unie, 1902-1910; Rekonstruksie: Die naoorlogsjare in Suid-Afrika, 1902-1905; Babilon: Johannesburg in die koloniale tydperk, 1902-1910 en ook Herlewing: Transvaal en die grensgebiede in die naoorlogsjare, 1902-1910. Laasgenoemde titel is pas op die rakke uitgepak. Boeke vyf en ses sal weldra volg.
Die Imperiale somer-reeks gee die geskiedenistydlyn op ’n boeiende wyse weer. Dit word aangevul deur interessante byvertellings, brokkies en staaltjies. Daar is heelwat aanhalings uit verskeie bronne wat die periode en gebeure uitlig. Die talle mooi foto’s en illustrasies bied ’n visuele beeld van dié era en kleur die persoonlikhede van geskiedkundige figure in. Liefhebbers van geskiedenis, navorsers en selfs skrywers sal inspirasie uit die boeke put.
Herlewing: Transvaal en die grensgebiede in die naoorlogsjare, 1902-1910 is ’n hardebandboek met ’n stofomslag wat 316 bladsye beslaan. Die uitgewersbrief lui: “In die vierde deel van die reeks Imperiale somer word aan Marabastad, die separatistiese kerke, die opkoms van die Afrikaners in die naoorlogsjare, die emigrasie van blankes na Oos-Afrika ná die oorlog, en die veldtog ten behoewe van die Indiërbevolking onder leiding van Gandhi aandag gegee. Anekdotes en kameebeskrywings kleur die vertelling in. Dié deel lewer ’n belangrike bydrae tot ’n voorheen minder bekende tydperk in die Suid-Afrikaanse geskiedenis en sal ’n wye leespubliek en nie net vakkundiges nie boei.”
Ek het dit interessant gevind om te lees oor president Paul Kruger se begrafnis. Hy is op 14 Julie 1904 in Switserse ballingskap dood en is in Den Haag begrawe. Maar aan die einde van die jaar is sy liggaam na Suid-Afrika gebring en ’n formele begrafnis het gevolg.
Uittreksel: Nie net het die Britse owerheid geen beswaar gemaak teen wat in werklikheid op die staatsbegrafnis van die oudpresident in Suid-Afrika neergekom het nie, maar hulle het sover dit nodig was self aktief daaraan saamgewerk met wat mens haas gretigheid sou noem. Vir ’n deel was dit moontlik ’n blyk van die groeiende twyfel in Engeland aangaande die regverdigheid van die oorlog en die begeerte om nog iets te probeer goedmaak, maar daarby het dit ongetwyfeld ook verband gehou met die voortgesette Britse rekonsiliasiepoging in die trant van ‘good friends now’” (123).
Meer oor die outeur: Romans, novelles, dramatekste en historiese werke het uit Karel Schoeman se pen verskyn. Hy het onder meer die Hertzogprys en die Recht Malan-prys verower. Hy is op 1 Mei 2017 oorlede.
Kry Herlewing: Transvaal en die grensgebiede in die naoorlogsjare, 1902-1910 hier.
Lees ook Louise Viljoen se indruk oor The Living Deserts of Southern Africa hier.



