Tieners vas oor vals ontvoering-video’s, eis van losprys

Deel hierdie storie / Share this story

Twee tieners van KwaZulu-Natal, ’n 17-jarige meisie en ’n vriendin wat sy glo op sosiale media ontmoet het, is in hegtenis geneem na hulle glo video’s van die 17-jarige se “ontvoering” aan haar familie gestuur het en ’n losprys van R8 000 geëis het.

Die polisie sê die 17-jarige tiener het glo op 25 Maart haar huis verlaat en saam met ’n 15-jarige meisie wat sy op sosiale media ontmoet het, gaan kuier. Die twee vriendinne het toe na bewering video’s gemaak wat dui op die 17-jarige se “ontvoering”, dit aan haar familie gestuur en ’n losprys van R8 000 gevra.

Die 17-jarige is as vermis aangemeld en die saak is later na ontvoering verander na die video’s.

Die polisie het in ’n bebosde area in Umlazi na die 17-jarige gaan soek. Die polisie het haar gewaar, maar sy het by ’n huis gaan wegkruip toe sy die polisielede gesien het. Volgens die polisie het hulle haar agternagesit en haar toe glo onder die invloed van drank gekry.

Voorlopige ondersoek dui daarop dat die meisie die hele tyd veilig saam met haar vriendin was, terwyl die polisie en haar familie bekommerd was oor haar verdwyning.

Die saak is aan die Umlazi-polisie oorhandig vir verdere ondersoek en die twee verdagtes is in hulle ouers se sorg vrygelaat.