Groot kommer oor daggakoekies in Gautengse skole

Deel hierdie storie / Share this story

Die Gautengse LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, het Sondag in ‘n verklaring gesê die departement is bekommerd oor die voortdurende neiging onder leerders wat daggakoekies by die skool uitdeel en eet.

Volgens die departement is verskeie leerders van Hoërskool Randfontein in die Wes-Rand, en Sekondêre Skool Mamellong in Ekurhuleni, onderskeidelik Donderdag 7 April 2022 en Saterdag 9 April 2022 in die hospitaal opgeneem.

Ongeveer elf graad 12-leerders by Hoërskool Randfontein het na bewering Donderdag gedurende skoolure siek gevoel en is dadelik na aparte mediese fasiliteite gehaas vir mediese hulp.

Twee van die leerders is terug huis toe, terwyl nege leerders gehospitaliseer is. Een was in ‘n kritieke toestand, maar is nou stabiel.

Daar is vasgestel dat hierdie leerders daggakoekies geëet het wat verkoop is deur ‘n graad 12-leerder, wat nou deur skorsing in die gesig gestaar word. Die leerling se moontlike skorsing kom as gevolg van die verbreking van die skool se gedragskode en dat die lewens van sy mede-leerders in gevaar gestel is.

Vier graad 12-leerders van Sekondêre Skool Mamellong het Saterdag ook na bewering daggakoekies gekoop en op pad na hul klasse geëet, waarna hul in die hospitaal opgeneem is.

“Ons is werklik bekommerd en ontevrede oor die voortdurende verbruik van hierdie ‘ruimtekoekies’ waarvan leerders siek word en dikwels in die hospitaal opgeneem word.

Ons doen ‘n beroep op leerders om hul te weerhou van die aankoop of gebruik van enige onbekende middels wat hul gesondheid en lewens in gevaar stel.

Leerders wat hierdeur geraak word, sal fyn dopgehou word om hul spoedige herstel en veilige terugkeer na hul families te verseker,” het LUR Lesufi gesê.