Moenie die wildveiling by Mattanu die naweek misloop nie!

Deel hierdie storie / Share this story

Jacques Kriek van Mattanu en die Kriek Wildlife Groep hou in samewerking met Help Jag ‘n gholfdag by Kimberley se gholfbaan op die 8ste April. Die aand is daar ‘n funksie waartydens Adam Tas gaan sing. Die aand van die funksie in die boma gaan daar ‘n klein veiling wees waar items ten bate van Help Jag opgeveil sal word. Kriek sê ook hy dink dis ‘n pad wat hulle vorentoe lank sal kan stap. Hy sê dis ‘n groot voorreg om betrokke te wees by ‘n instansie wat 8 000 kinders elke dag kos gee. “Dit is die inisiatief van Helpende Hand en Solidariteit. Ek dink dit kan vir hulle ook ‘n voetspoor gee hier in sentraal Suid-Afrika.”

Die 9de April is dit Kriek Wildlife Groep se groot wildveiling. Kriek sê dis ook lekker om as wildsboere saam te werk, om wildkarkasse te voorsien aan slaghuise, waarvan daardie vleis dan gebruik word om etes en kospakkies vir die kinders voor te berei. “Dit is ‘n goeie inisiatief en ek dink dit gaan goeie vrugte afwerp.”

Vir die gholfdag die 8ste beoog hulle om so 160 gholfspelers betrokke te kry. “Ons beplan baie interessante dinge vir die dag – lekker geskenkpakkies, groot borge wat betrokke gaan wees, uitstallers, bowwe te koop, en van die gasverkopers gaan daar wees om hulle diere en besighede op die gholfdag te bemark. Die aand word dit gevolg deur ‘n lekker konsert deur Adam Tas en ook ‘n voorveiling-funksie waar ons die gasverkopers bekendstel by Mattanu se Kameeldoring-boma. Dit sal net ‘n lekker sosiale geleentheid wees waar kopers en verkopers kan skouers skuur.” Beefmaster is die gholfdag se hoofborg, en dan ook Mercedes-Benz en Fuso, wat die pette geborg het.

Die volgende dag, die 9de, gaan almal oorbeweeg na die veiling toe, by Mattanu Private Game Reserve Auction Venue & Bomas waar daar omtrent so 87 wildlotte sal wees, en voor die wildveiling sal daar 20 top beeslotte wees. “Ek dink tesame met die gholfdag is dit ook ‘n manier om meer ouens na sentraal Suid-Afrika te trek. Vir die hele naweek en dit nie net aanlyn by te woon nie. Maar om werklik hier te wees, dis maar net anders om ‘n gholfdag en veiling lewendig by te woon.”

Kriek sê hy verwag ‘n groot veiling. “Ons kry verskriklik baie navrae. Met twee jaar se Covid-19 moes baie kopers getalle uitdun en te veel skiet vir kontant en om die Suid-Afrikaanse mark te bevredig.” Hy verduidelik ook dat met die droogte voor dié nuwe reënseisoen was die getalle klaar laag. Die boere wil weer kuddes opbou en hulle besef daar is ‘n tekort aan manlike diere. “En daar is ook net soveel manlike diere wat jy kan inkoop, êrens gaan jy hulle weer moet teel.

Ons het ‘n oplewing gesien in die pryse, ‘n oplewing in die navrae. Ek dink dis ‘n goeie situasie om in te wees. Die datum is briljant dink ek, net na almal van die jagskoue af terugkom.

Op die veiling self het ons ‘n paar besonderse lotte vir enigiemand in die jag- en teelbedryf. Dis lekker om sulke diere aan te bied en dis ongelooflik hoe die kwaliteit net elke jaar moet verbeter om die ouens te trek en ten toon te stel wat die telers reg doen. Ons kan niks doen sonder die ondersteuning van ons gasverkopers nie. Ons het hierdie jaar 20 gasverkopers.” Die veiling word begin met so 20 beeslotte. Daar sal Bonsmaras van Marochel Bonsmaras en Kruger Bonsmaras-genetika wees, Brangusse van die Delport-stoetery en Wiljada-boerdery, asook Tuli-bees van Jim Bredenkamp en Giel van Niekerk te siene wees.

Daarna gaan ons oor na die wildveiling. Van die hoogtepunte is besonderse buffelkoeie van onderskeidelik Marais Boerdery, Buffalo Ranch, Nuwejaarskraal, Kriek Wildlife Group en Masara Genetics. Masara Genetics bied die twee grootste buffels van die veiling aan van 40½ en 41 duim. Die buffelbulle van Gunsgenoot en Nuwejaarskraal se horings wissel van 42½ tot 47 duim. Die waterbokke is een van ons hoogtepunte, van Bdumbitoo, met Hercules reeds 36 duim genetika en Inkosi is op 4-jarige ouderdom klaar 36 duim. Sy halfbroer, Shaka is 39 5/8 duim. Hulle het ook vyf koeie gebore uit Hercules-genetika en wat ook loop saam met Hercules. Hulle het top rooibok en top gemsbok genetika ook, met die gemsbokke wat wissel tussen 40 en 45 duim.”

Kriek sê ook dat die wildsmark blootstelling gee aan die beesmark en vice versa. “Wildboere koop ook bees en baie beesboere het wild. Dit is amper soos kruisbestuiwing.”

Hy nooi almal uit om die gholfdag, funksie en veiling te geniet saam met die Kriek Wildlife Group en egte Noord-Kaap-gasvryheid te kom ervaar. Op die webwerf helpjag.co.za kan jy bowwe bespreek teen R2 000 en jou 4-bal registreer. Op die webwerf is daar ook borgskapgeleenthede.

By die veiling gaan daar ook vermaak wees vir die kinders met ponieritte, vierwiel-motorfietse, hulle kan die diere gaan kyk. Daar sal kosstalletjies wees en oulike uitstallings. “Kom enige tyd van 9h00 af, kom eet ‘n pannekoek, drink ‘n koffie, stap deur die diere en ons begin dan 11:00 met die beeslotte. Ons afslaer op die dag sal Neil Swart wees. Wildswinkel help natuurlik die veiling aanbied.”  

By die wildveiling is daar gratis stalletjies waar enigiemand kan kom uitstal, dit is 3x3m-staanplekke.

Hy wil ook graag dankie sê aan die volgende borge:

 Beefmaster – hoofborg vir gholfdaghemde

Mercedez Benz en Fuso – pette

Privaat donasie vir die funksie die aand

Gemeenskap was ook ongelooflik behulpsaam