Forbes: 2022 se rykstes

Deel hierdie storie / Share this story

Die saketydskrif, Forbes, het pas 2022 se rykstes bekendgestel, maar sê die oorlog, die pandemie en die treurige internasionale markte het vanjaar die wêreld se miljardêrs se geldsake beinvloed.

Suid-Afrikaners het ook die ranglys gehaal.

Op Forbes se 36ste jaarlikse ranglys is daar 2 668 van die planeet se rykste mense gelys.

Hulle is gesamentlik $12,7 triljoen werd, sowat $400 miljard minder as in 2021.

Die skokkendste dalings het plaasgevind in Rusland, waar daar 34 minder miljardêrs as verlede jaar is, ná Wladimir Poetin se inval in Oekraïne.

China het ook as gevolg van hul regering se onderdrukking van tegnologiemaatskappye 87 minder Chinese miljardêrs op die lys.

Amerika lei steeds die wêreld, met 735 miljardêrs, met ‘n gesamentlike waarde van $4,7 triljoen. Dit sluit Elon Musk, wat vir Jeff Bezos verbygesteek het, in.

Hier is die wêreld se top 10 superrykes:

1️⃣ Elon Musk, stigter van Starlink, SpaceX en Tesla, asook nuutverkose direkteur van Twitter, met ‘n netto-waarde van $219 miljard.

2️⃣ 2. Jeff Bezos, uitvoerende voorsitter van Amazon, met ‘n netto-waarde van $171 miljard.

3️⃣ Bernard Arnault & family, uitvoerende hoof van Moët Hennessy en Louis Vuitton, se netto-waarde is vasgestel teen $158 miljard.

4️⃣ Bill Gates, stigter van Microsoft, se netto-waarde beloop $129 miljard.

5️⃣ Warren Buffett, uitvoerende hoof van Berkshire Hathaway, se netto-waarde is $118 miljard.

6️⃣ Larry Page, mede-stigter van Google, se netto-waarde is $111 miljard.

7️⃣ Sergey Brin, ook mede-stigter van Google, se netto-waarde is $107 miljard.

8️⃣ Larry Ellison, mede-stigter van die sagtewarefirma, Oracle, se netto-waarde is $106 miljard.

9️⃣ Steve Ballmer, voormalige hoof van Microsoft en eienaar van die Los Angeles Clippers se netto-waarde is $91.4 miljard.

🔟 Mukesh Ambani, die grootste aandeelhouer van Reliance Industries Bpk. en ander besighede, is $90.7 miljard werd.

Johann Rupert, die rykste man in Suid-Afrika, se netto-waarde staan op $8,9 miljard wat hom op nommer 230 plaas, terwyl Nicky Oppenheimer se netto-waarde op $8,7 miljard staan en hom op nommer 241 plaas.