3 000 spookwerkers by Prasa kry vol salaris

Deel hierdie storie / Share this story

Die minister van transport, Fikile Mbalula, het die nuus meegedeel dat daar 3 000 spookwerkers is wat salaris by Prasa (Passenger Rail Agency of South Africa) getrek het en dat Prasa die slagoffer was van ‘n reuse verneukspul. Dié ontdekking is gemaak nadat Prasa ‘n interne ondersoek, genaamd Operasie Ziveze, gedoen het.

Die betalings aan dié werkers is in Desember 2021 gestop en volgens Mbalula het geeneen nog aangemeld en gesê dat hy ‘n salaris geskuld word nie. Mbalula het ook in sy verslag aan Scopa genoem dat hulle besig is om Prasa reg te ruk. “Prasa is stukkend. Normale besighede kan nie bekostig om een spookwerker te hê nie. Ons het 3 000. Dit is as gevolg van korrupsie binne ons HR-kantore en dit beteken dat iemand hierdie hele gebeurtenis georkestreer het om geld te steel van die besigheid.”

Hulle is besig met forensiese ondersoeke om uit te vind wie dit was wat betaal was, asook die bankrekeninge waarin die salarisse betaal is. Prasa gaan ook ‘n regsaak teen die spookwerkers oopmaak. 

‘n Bekende Tiktokker van Kimberley, Stacey, (dj_stacey) het die hele situasie raak en gevat opgesom. “Terwyl ons hier sit sonder water, en waar mense mekaar moor vir drie druppels water, moet ons nou hoor dat 3 000 mense wat nie bestaan nie, volle salaris kry terwyl daar ander mense is wat nie eers werk het nie!”

Sy sê sy was 12 jaar oud toe sy laas op ‘n trein gery het. “Want het jy gesien hoe lyk dit, die treinstasies, die treinspore, ás daar wel spore is? Nou wil Fikile Mbalula vir ons kom sê daar is ‘n probleem in die HR-sisteem by Prasa. Doen julle nie ook interne audits nie? By mý werk, as daar net een mens is wat nie bestaan nie, en ‘n salaris kry, word jy môre afgedank.”