Pienaar net op een aanklag skuldig bevind

Deel hierdie storie / Share this story

Die land is aan die gons oor die regverdigheid al dan nie van die 10 maande tronkstraf wat André Pienaar gister in die Bethlehem-hof opgelê is.

SJ Fourie, wat ook ‘n beskuldigde in die saak was, het heeltemal losgekom en is glad nie gevonnis nie.

Willem Petzer, ‘n aktivis teen plaasmoorde, het in ‘n verduideliking op Facebook gesê dit blyk asof daar ‘n gefabriseerde saak teen Fourie gemaak is. Hy vertel twee getuies wat gesê het dat hy die brand gestig het, se getuienis is weerspreek in Fourie se getuienis. Dié getuies het glo gesê dat Fourie ‘n khaki-hemp aangehad het, maar hy het ‘n swart hemp aangehad.

“Die regsspan het ‘n ongelooflike goeie werk gedoen.”

Rakende André Pienaar, wat 10 maande tronkstraf gekry het ná hy ‘n pleitooreenkoms met die staat aangegaan het, sê Petzer: “Ongelukkig weet ons dat André daardie dag baie dinge gedoen het wat inkriminerend was. Sy regsspan, Jaap Cilliers, het hom advies gegee om die pleitooreenkoms aan te gaan.”

Daar was ses klagtes teen Pienaar soos saakbeskadiging en aanranding met die doel om ernstig te beseer, poging tot moord en brandstigting. Petzer sê dié aanklagte teen Pienaar is laat vaar en hy is net op een aanklagte, publieke geweld, skuldig bevind.

Petzer sê daar sal met geld wat vir die regsfonds ingesamel is, vir sy vrou en kinders gesorg word in die tyd wat Pienaar in die tronk gaan wees.

Hy vertel van die gebreekte implemente wat Pienaar nog besig was om reg te maak om te verkoop.

Werktuigkundiges van die Bittereinders sal nou saamstaan om dit vir hom te herstel en te verkoop.