Die Suid-Afrikaanse Poskantoor (SAPO) het ’n waarskuwing uitgereik oor boodskappe wat mense vra om ’n uitklaringsfooi te betaal om hul pakkies te kry.
SAPO-woordvoerder, Johan Kruger, het gesê daar was ‘n skerp toename in die aantal navrae oor mense wat ‘n e-pos of SMS ontvang het waarin hulle gevra word om geld in ‘n bedrieglike rekening in te betaal.
Kruger het gesê die boodskappe lui dat die pakkie eers vrygestel kan word sodra ‘n uitklaringsfooi betaal is en sluit ‘n skakel in.
“Sou die ontvanger op die skakel klik, maak ‘n bladsy oop wat betaling versoek waar die ontvanger ‘n betaling kan maak om die fiktiewe pakkie ‘vry te stel’. Die huidige webwerf verander van voorkoms en die boodskap wat dit vertoon.”
Dit is hoe jy ‘n boodskap of e-pos kan sien wat nie van die Poskantoor af is nie:
• Die Poskantoor vra nooit vooraf invoerregte of uitklaringsfooie nie.
• Indien daar doeanegelde betaalbaar is op ‘n pakkie uit die buiteland, betaal die kliënt die fooie wanneer hulle die pakkie by die Poskantoor se toonbank afhaal.
• SAPO versoek nooit jou bankrekeningnommer of ‘n aanlyn betaling vir doeaneregte nie.
• Die opsporingsnommer op die boodskap is ongeldig wanneer dit op die posnasporingswebwerf ingevoer word.
• Die SAPO stuur ‘n SMS of ‘n afhaalstrokie aan kliënte wanneer hulle ‘n pakkie het wat wag vir afhaal by ‘n tak. Hierdie pakkie moet so gou moontlik afgehaal word om seker te maak dit word nie aan die sender terugbesorg nie. Poskantoortakke het aparte toue vir verskillende transaksies, dus sal jy in ‘n korter, vinniger ry staan wanneer jy jou pakkies gaan afhaal.
Bronne: Sunday World, MSN
Volg FiND iT hier.
Lees ook: Onderwyser afgedank omdat hy ‘onvanpaste’ boek vir graad 2-leerders gelees het



