Voelklip-pad eis nog ‘n lewe

Deel hierdie storie / Share this story

Nog ‘n lewe is op die berugte pad na Voëlklip in Heroldsbaai geëis toe ‘n vrou onlangs in haar motor oor ‘n krans gery het.

Die slagoffer is vermoedelik die 57-jarige Jo-Anne Lourens van Delvillepark, wat op Donderdag 17 Maart vermis geraak het nadat sy haar dogter se huis in Geelhoutboom verlaat het, berig die George Herald.

 Die identiteit van die oorledene is egter nog nie deur die polisie bevestig nie. Dit is onduidelik wanneer die voertuig teen die krans afgery het.

Volgens die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt Malcolm Pojie, ‘n lid van die George-gemeenskapspolisieforum, het Rupert Pretorius, wat deel was van die soekgeselskap na Lourens, omstreeks 16:00 op ‘n wit voertuig aan die onderkant van die krans afgekom. Hy het die polisie in kennis gestel.

“Geen gemene spel word in hierdie stadium vermoed nie,” het Pojie gesê.

Nooddienste wat gisteraand op die toneel was, het probeer om die liggaam wat in die motor vasgekeer is, uit te kry.