‘Geen masker in die buitelug nodig,’ sê Ramaphosa

Deel hierdie storie / Share this story

Pres. Cyril Ramaphosa het vanaand in sy toespraak gesê dis al byna twee jaar sedert hy die eerste keer die nasie toegespreek het oor die Covid-19-pandemie.

Hy sê ons lewens het in die laaste twee jaar baie weens die virus verander. “Die pandemie het die manier waarop ons werk, reis, sosialiseer, speel en ook sport beoefen, beïnvloed. Die ekonomie is erg beïnvloed en sowat twee miljoen het hulle werk verloor.”

Ramaphosa sê die ramptoestand sal opgehef word sodra die publiek kommentaar gelewer het oor die voorgestelde regulasies om Covid-19 te hanteer. Die publiek het tot 15 April om kommentaar en insette te lewer.

LEES OOK: Seun (14) verdrink by Boys High in Kimberley

Die nasionale ramptoestand kom nou tot ‘n einde, maar pres. Ramaphosa sê alhoewel die ramptoestand eindig, eindig die pandemie nie.

Die nasionale koronavirusraad het besluit om die volgende verslappings aan die maatreëls aan te bring:

  • Beide binnenshuise en buitemuurse byeenkomste mag 50% van die lokaal se kapasiteit toelaat, indien alle persone by toelating ‘n inentingsertifikaat óf negatiewe Covid-19-toets (nie ouer nie as 72 uur) kan wys.
  • Die maksimum hoeveelheid persone wat ‘n begrafnis mag bywoon, is nou 200. Byeenkomste ná begrafnisse sal steeds nie toegelaat word nie.
  • Jy hoef nie meer in die buitelug ‘n masker te dra nie. Binnenshuis en op openbare vervoer is dit egter steeds noodsaaklik.
  • Buitelandse reisigers wat SA wil binnekom, moet ‘n negatiewe Covid-19-toets of bewys van inenting kan wys.