Ouers 20 j. tronk toe nadat hulle baba verdrink

Deel hierdie storie / Share this story

Die hooggeregshof in Mpumalanga het Donderdag ouers, Fanni Poloane en Keletso Sesi Maimela, tot 20 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis vir die moord op ‘n 18 maande oue babadogtertjie.

Die woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het gesê Maimela is die biologiese ma van die babadogtertjie en was in ‘n verhouding met Poloane.

“Die hof het gehoor die twee het gedurende September 2019 saamgesweer en die oorledene in die nag na die berge rondom Lydenburg geneem. Daar het hulle die slagoffer met haar kop na onder in ‘n emmer vol water gedompel totdat sy dood is,” het die woordvoerder gesê.

Die beskuldigdes het toe die baba se liggaam in die bosse gegooi en teruggekeer huis toe.

Later het die ouers van die beskuldigdes hulle uitgevra oor waar die kind is, maar hulle kon nie ‘n bevredigende antwoord verskaf nie.

Uiteindelik is die saak by die polisie aangemeld en ‘n intense soektog is van stapel gestuur, maar die kind se liggaam is nooit gevind nie.

Regter Kgama Shai het elkeen 20 jaar tronkstraf opgelê vir moord en vyf vir regsverydeling. Die vonnisse sal gelyktydig uitgedien word, wat beteken dat hulle effektief 20 jaar agter tralies sal deurbring.

Bronne: MSN, Economy24

Volg FiND iT hier.

Lees ook: Juffrou gehospitaliseer nadat vyfjarige haar in ‘afkoelkamer’ slaan