Grey College, Paarl Gim, Monnas, Glenwood of watter een van die ander 81 skole wat hierdie jaar aan die Absa Wildeklawer Sporttoernooi deelneem, sal triomfantlik vanjaar seëvier?
Aanduidings van skolerugby-, netbal- en sokkerwedstryde wat tot dusver na die pandemie in Suid-Afrika plaasgevind het, is ’n goeie barometer van wat te wagte kan wees vanjaar by dié wêreldklas sporttoernooi.
Skolesport uit boonste rakke
Ondersteuners is uitgehonger vir skolesport uit die boonste rakke en die spelers is gereed om hulle harte uit te speel om net die beste prestasies te lewer.
Cassie Carstens, operasionele bestuurder van die toernooi, sê dié sporttoernooi, wat die grootste skolesporttoernooi in Afrika is, sal vanjaar 182 spanne vanuit 85 skole huisves.
Dié toernooi, wat in Kimberley in die Noord-Kaap aangebied word, sal ’n reuse ekonomiese inspuiting na die provinsie te bring.
Absa weer aan boord
“Absa het die naamregte vir dié toernooi bekom en ons is baie opgewonde om Absa weer vanjaar aan boord te hê. Wildeklawer is trots op met Absa geassosieer te word.”
Carstens sê na twee jaar se afwesigheid as gevolg van Covid-19, wat tot geweldige teleurstelling vir ouers, spelers, afrigters en beamptes gelei het, is die toernooi terug – en dit gaan gróót wees.
“Ons het vanjaar vir die eerste keer ook ’n sokkertoernooi by die rugby- en netbaltoernooie gevoeg. As een van ons nasionale sporte, sien ons uit na blootstelling op dié vlak vir spelers wat bevoorreg is om hier raakgesien te word. Sokker sal in die toekoms ’n groter rol speel in die toernooi’’.
Altesaam 4239 deelnemers en beamptes
Altesaam 4239 deelnemers en beamptes kom oor dié tydperk vanuit alle provinsies na die Noord-Kaap.
Gastehuise, hotelle en oornagverblyf is reeds vol bespreek en ondersteuners en ouers sal sover as Warrenton, Windsorton, Douglas, Christiana en nabygeleë dorpe, akkommodasie bekom.
“Die Absa Wildeklawer Sport en Sol Plaatje Universiteit sal ’n ekonomiese impakstudie doen ten opsigte van die ekonomiese inspuiting in Kimberley en die Noord-Kaap gedurende die toernooi.”
Die Absa Wildeklawer Sporttoernooi vind in vier afdelings plaas:
1. Die laerskool toernooi vanaf 24-27 April, 2022, by Newton Laerskool. Dit sluit die o.13 uitnodigingstoernooi in. (Uitgenooide spanne van die Noord-Kaap.)
2. Die o.19 rugby- en netbaluitnodigingstoernooi vind plaas vanaf Donderdag, 28 April, tot Saterdag, 30 April, by Diamantveld Hoërskool. Dié spanne arriveer al op 27 April.
3. Die seniortoernooi, wat o.19 rugby en netbal, asook o.14, o.15 en o.16 insluit, skop af vanaf Vrydag, 29 April, tot Maandag, 2 Mei, by Diamantveld Hoërskool.
4. Die o.19 sokkertoernooi vind op Saterdag, 30 April en Maandag, 2 Mei, by Kimberley Boys’ High, plaas. Die spanne arriveer 29 April.
Volg die toernooi hier:
*Persverklaring uitgereik deur Dottry Media (Pty) Ltd



