Video: SAPD-lid klap vrou herhaaldelik deur die gesig

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Ondersoek is geloods nadat ‘n klerk by Kemptonpark-polisiestasie ‘n vrou herhaaldelik deur haar gesig geslaan het, berig Afrinuus.

‘n Video van die voorval is wyd op sosiale media versprei, waarin gesien kan word hoe die man die vrou klap en sy “voetsek” sê.

Die Gautengse polisiewoordvoerder, Dimakatso Sello, het die voorval aan AfriNuus bevestig en ten sterkste veroordeel.

“Die bestuur van SAPD in Gauteng het met teleurstelling kennis geneem van die video wat op sosiale media sirkuleer waar een van die werknemers van SAPD blykbaar ‘n vrou klap.”

“Die voorval word in die sterkste moontlike terme veroordeel. As die SAPD het ons die mandaat om te beskerm en te dien en ook te veg teen enige voorvalle van geweld, veral dié wat teenoor vroue en kinders gepleeg word. Die dame het ‘n saak van aanranding geopen terwyl die man ‘n crimen injuria-saak geopen het.”

‘n Departementele saak is ook geopen teen die betrokke lid, wat ‘n klerk by ‘n plaaslike polisiestasie is.

Jy kan die video hier kyk: https://mobile.twitter.com/Abramjee/status/1504051785635438595