In ‘n eksklusiewe onderhoud wat AfriNuus met Tristan Nettles gevoer het, vertel hy emosioneel van die omstandighede waarin die 23-jarige Ashley Oosthuizen in ‘n “beknopte” Thaise tronk aangehou word.
Oosthuizen is in hegtenis geneem na sy by Nettles se restaurant in Thailand geteken het vir ‘n pakkie wat dwelms bevat het.
Sy is aanvanklik die doodstraf opgelê, maar die vonnis is in lewenslange tronkstraf verander.
Volgens Nettles het hy op 16 Desember laas via video met Oosthuizen gepraat. “Ek het ook ‘n klomp ‘hartbrekende’ briewe in die loop van Januarie en Februarie van haar af ontvang,” sê hy. “Sy het haar huidige omstandighede in detail verduidelik.”
Hy vertel sy was tydens hulle laaste gesprek baie ontsteld en het gehuil. Nettles raak ook emosioneel as hy vertel van die omstandighede wat Oosthuizen beskryf het.
Hy sê sy is siek, emosioneel, het nie geld nie en dat sy ook nie vriende het nie.
“She’s not well.”
Oor AfriNuus se vraag oor hoe mense Oosthuizen kan ondersteun, vertel Nettles van die GoFundMe-veldtog wat gestig is om geld vir haar in te samel. Hy sê die geld wat daar ingesamel word, sal gebruik word om haar saak te ondersteun, en die geld wat oorbly, sal ná haar vrylating aan haar gegee word om “haar lewe mee te begin”.
Hy sê deur video’s en artikels te deel oor Oosthuizen se storie, kan ook help om haar “uit die nagmerrie te help”.
Nettles verwys dan ook na die Free Ashley-webtuiste wat hy begin het. Hy sê toe Oosthuizen na ‘n nuwe tronk oorgeplaas is en sy uitgevind het dat sy slegs twee oproepe van tien minute elk per jaar sal kry, het hy besluit hy moet iets doen. Só het hy die webtuiste begin en gaan nou voort om Oosthuizen se storie met die wêreld te deel.
“I will not rest until Ashley is heard globally and until the people who are responsible for this monstrosity, are also known globally.”
Nettles sê sy en Oosthuizen se pa se pogings om Ashley te help, “verskil drasties”. “Sy plan is om te wag en te hoop, myne is om te baklei en te sukkel.”
Hy sê verder dat Oosthuizen se ma as die “wrede stiefma” beskryf kan word en dat haar ma haar verbaal mishandel het.
Hy bedank dan almal wat tot dusver Oosthuizen se saak op enige manier ondersteun het en sê sy enigste doel is om Oosthuizen se vrylating te laat realiseer.



