Volgens Eskom is daar ‘n moontlikheid dat beurtkrag weer kan inskop, aangesien die kragstelsel steeds onder druk bly ten spyte daarvan dat dit genoegsaam herstel het om alle beurtkrag op te skort.
Eskom het Sondagaand beurtkrag opgehef, ná ‘n onstuimige week waarin die energiereus minstens 20 000 MW se opwekkingskapasiteit verloor het, wat hom gedwing het om die strenger fase 4-beurtkrag in werking te stel.
“Die stelsel sal Maandag en Dinsdag beperk bly en daar word verwag dat uitgebreide gebruik van noodreserwes nodig sal wees voordat die eenhede na normaal terugkeer.
Ons vra steeds hulp van alle Suid-Afrikaners om voort te gaan om elektrisiteit spaarsamig te gebruik.”
Eskom sê hoewel beurtkrag ‘n impak op alle sektore het, bly dit ‘n noodsaaklike hulpmiddel vir die kragvoorsiener.
“Ons wil graag die mense van Suid-Afrika bedank vir hul ondersteuning en geduld gedurende die tydperk van beurtkrag.
Ongelukkig is dit soms nodig om beurtkrag in te stel om die stelsel te beskerm en ‘n algehele verduistering te voorkom.”
Intussen is ‘n Eskom-werknemer gearresteer, omdat hy na bewering infrastrukturele dwarsbalke by die kragvoorsiener gesteel het.
Die werknemer is vasgetrek toe hy na bewering probeer het om die dwarsbalke aan ‘n skrootmetaalhandelaar te verkoop.



