’n Eks-meisie wat by haar voormalige kêrel se slaapkamer ingebreek het, het hom en sy nuwe meisie met petrol gegooi en hul daarna aan die brand gesteek.
Sarah Mudge (31) het Donderdag net voor 03:00 by Stanley Obi se huis in New Beith, Brisbane ingebreek waarna sy hom en sy nuwe 30-jarige meisie aan die brand probeer steek het terwyl sy drie jong kinders in die huis was.
Mudge, ma van vier, is tydens die voorval dood.

Obi se meisie, wat brandwonde aan haar lugweg opgedoen het, kon daarin slaag om met die drie kinders van vyf, drie en twee te ontsnap.
‘n Buurman het Obi se brandende liggaam uit die wrak gesleep. Hy het 90% brandwonde oor sy lyf opgedoen en moes 35 minute vir ‘n ambulans gewag het.
Die pa bly in ‘n kritieke toestand in die Royal Brisbane-hospitaal.
‘n Buurman het aan die Courier Mail gesê hy het hard probeer om almal – insluitend Mudge – uit die brandende huis te bevry.
Obi se huidige, naamlose vriendin en die drie kinders is na die Royal Brisbane-hospitaal geneem.
Speurders sê die gewese paartjie, Obi en Mudge, was glo aan die polisie bekend terwyl hulle saam was.
Net weke voor die tragedie het Mudge ‘n kriptiese plasing op Facebook geskryf onder die opskrif “verhoudingsreëls”.
“Sy is nie giftig nie broer,” het sy geskryf.
“Jy het haar so gemaak. Nou dink jy sy is mal. Jou besluite weerspieël haar optrede. Kontroleer jouself.”
Mudge, wat haar eie fotografie-onderneming bestuur het, het ook verskeie foto’s van Obi en hul kinders op haar sosiale media-bladsye.
Net vier dae gelede het sy mense op ‘n plaaslike Facebook-blad vir raad gevra oor haar seun se slaktuin.
Obi se vriend het gesê hy en sy nuwe vennoot het verlede jaar hul nuwe droomhuis gebou, en het eers laat in Oktober verhuis.
Speurders moet nog die oorlewende vrou ondervra en het ‘n beroep op die publiek gedoen vir inligting en glo nie iemand anders was betrokke nie.
Een inwoner het gesê brandweerwaens en polisiesirenes het hom om 03:00 wakker gemaak.
Brandbestryders het meer as twee uur daaraan bestee om die vlamme te blus.




