Poolse ma’s los stootwaentjies vir vlugtelinge uit Oekraïne

Deel hierdie storie / Share this story

Meer as 1,5 miljoen mense, waarvan die meeste vroue en kinders, het al uit Oekraïne gevlug ná Rusland die land op 24 Februarie ingeval het.

Oor die grens, in Poland, staan ma’s nou saam om ander te help.

‘n Foto wat wyd op sosiale media versprei is, wys ‘n klomp stootwaentjies wat ma’s van Poland op ‘n treinstasie in Medyka gelos het vir Ukraïense vlugtelinge om vir hulle babas en klein kindertjies te gebruik.

Francesco Malavolta, die fotograaf wat die foto geneem het, sê dit het surrealisties gevoel. “Die feit dat daar reg rondom die stootwaentjies niks mense was nie, terwyl daar twee meter verder hordes mense was, het my getref.”

“Ek het aan beide gedink: die solidariteit van ma’s wat die waentjies daar gelos het en die dramatiese stories van ma’s wat van die oorlog vlug.”