Pa, ma en dogters (8 en 11) koelbloedig doodgeskiet

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Gesin van ‘n pa, sy vrou en sy twee dogters is Dinsdagaand koelbloedig in Bushbuckridge doodgeskiet.

Die polisie is nou op soek na die verdagtes wat glo ná die moorde oor ‘n muur gespring en van die toneel gevlug het.

Brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, sê die gesin se bure het Dinsdagaand om 19:30 skote gehoor. Die bure het vermoed die skote kom vanuit die sakeman se huis. “Getuies het gesien hoe twee mans in die rigting van die R40 oor ‘n muur spring en in die donkerte verdwyn,” sê Mohlala.

Hy sê die polisie en nooddienste is van die voorval in kennis gestel. “Toe die polisie en nooddienste op die toneel aankom, het hulle op die liggame van die 58-jarige man, 50-jarige vrou en hulle twee dogters van onderskeidelik 11 en 8 jaar oud afgekom.”

Die slagoffers is intussen geïdentifiseer as Johnson Fakude (58), Gift Matsane (50) en hulle dogters Princess Fakude (11) en Priscilla Fakude (8).

Die polisie weet nog nie wat die motief agter die moorde was nie.