“Die wêreld is stukkend. As jy my nie glo nie, gaan staan net na 17:00 in die middag in die ry by ‘n Spar.”
Só sê Bianca Botha van Centurion wat gistermiddag by ‘n kruidenierswarewinkel gesien het hoeveel mense swaar kry.
Sy vertel dis vir haar hartseer om te sien hoeveel mense weens die Covid-19-pandemie sukkel om kop bo water te hou. “Ons almal worry oor ons eie geld en of ons genoeg gaan hê om te koop wat ons moet koop, maar iemand langs jou in die winkel kan dalk net minder as jy bekostig. Ons bure kry swaar.”
Botha het haar na Facebook gewend in ‘n poging om mense te bereik en bewusmaking oor wat rondom jou aangaan, te bevorder. Die plasing waarin sy haar ervaring en gevoelens ná haar besoek aan die winkel verduidelik, is meer as 1 500 keer gedeel.
“Wat my hart warm gemaak het, is dat daar mense wat na vore gekom het en gesê het hulle sal nou meer begin kyk, sien en ervaar.”
Sy vertel daar het selfs mense aangebied om ander wat sukkel, te help.
“Ek weet wat dit is om niks te hê nie. Ons almal swem in dieselfde water en as ons die vermoë het om iemand net ‘n oomblik te gee om asem te haal, moet ons dit doen.”
Lees hier die stuk wat Botha geskryf het.
“Die vrou voor ons staan by die till en jy kan aan die kyk op haar gesig sien toe die kaart nie deurgaan nie. Sy kyk toe in haar beursie of daar miskien êrens met geluk genoeg geld in is. Op die counter lê ‘n brood. ‘n Pak doeke. ‘n 1l melk. Niks anders nie. ‘No name‘ doeke.
Ek let dadelik op om ons, aan my regterkant, staan ‘n vrou met ‘n brood en ‘n klein houertjie Colgate-tandepasta. Aan my linkerkant staan ‘n man diep in sy 60’s met ‘n houertjie van ses eiers, meel en ‘n klein botteltjie chutney. Agter hom staan ‘n man met een pakkie R30 maalvleis, en ‘n klein sakkie ‘No Name‘ rys. Die oom by die ander teller vra die dame: “Please can you give me change, I need to buy petrol. ” Sy gee vir hom twee R50-note. Twee R50-note vir petrol.
Ek kon voel hoe my oë vol trane raak. My lyf raak yskoud en ek voel asof dit wat hulle ervaar oor my kom. Ek kan dit voel. Duidelik voel. Dit is die 8ste van die maand en niemand wat daar gestaan het, het meer as een aand se kos gehad nie.
Ons wêreld is besig om uitmekaar te val. Almal se salarisse bly dieselfde, maar goed op die rakke raak onbekostigbaar. Vleis is ‘n luuksheid en tandepasta ook. Albany-brood word nou Spar-brood en 2l melk word nou 1l melk. Borde kookkos vir aandete word nou worsbroodjies en kouevleis-broodjies.
Ons het nie meer simpatie met mense se situasie nie. Mense deel nie meer ‘n koppie suiker oor die muur of ‘n glasie melk by die agterdeur nie. Dit wat ons het, is so min, dat dit te min is om te deel. Dit wat ons het, moet hou, want daar is genoeg op die rakke, maar min in ons beursies.
My hart is vanaand stukkend. want soveel van ons sloer in stilte. Swaarkry is ‘n sonde. As jy swaarkry gaan mense lag, vinger wys, jou vriende gaan jou nie uitnooi na die braai toe nie. Van wanneer af is swaarkry ‘n sonde? En van wanneer af is deel te veel?”



