Man sterf ná ‘n oordosis kafeïene

Deel hierdie storie / Share this story

‘n 29-jarige man is dood weens ‘n oordosis kafeïene.

Volgens BBC en Yahoo News het Tom Mansfield, ‘n persoonlike afrigter, ‘n mengsel gedrink wat die kafeïen-ekwivalent van ‘n paar honderd koppies koffie bevat. 

Mansfield het ‘n 100 gram sak kafeïenpoeier bestel om in aanvullingsdrankies te gebruik, maar ‘n fout begaan toe hy die poeier op ‘n skaal meet wat daartoe gelei het dat hy ‘n dodelike dosis kafeïene ingeneem het.

‘n Foutiewe skaal is glo gebruik wat ‘n begin-gewig van 2 gram gewys het, wat beteken het dat Mansfield meer as die toelaatbare hoeveelheid van die poeier gebruik het – gelykstaande aan tot 200 koppies koffie.

Die aanbevele dosis vir gebruik vir die kafeïenpoeier was tussen 60 en 300 milligram.

Nadat hy die koffie op 5 Januarie 2021 gedrink het, het Mansfield sy bors vasgehou en gesê sy hart klop vinnig.

Daar het skuim by sy mond uitgekom en sy vrou het ‘n ambulans ontbied waarna hy in die hospitaal opgeneem is. Sy hart het gaan staan en hy is dood verklaar.

Volgens die lykskouing het Mansfield ‘n kafeïenvlak van 392 mg per liter in sy bloed gehad.

Die tipiese kafeïenvlak na die drink van slegs een koppie koffie is ongeveer 2 tot 4 mg per liter.

Kafeïenpoeier kan gevaarlik wees, want dit is baie kragtiger as kafeïenbevattende drankies, soos koffie.

In 2015 het die Amerikaanse voedsel- en dwelmadministrasie verskeie maatskappye wat die poeier verkoop, gewaarsku dat hul produkte ‘n “beduidende of onredelike risiko van siekte of besering vir verbruikers inhou,” is deur Live Science berig.